Man met spanpoging uit Kowie-rivier gered

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Google / Robert van der Fyest)

’n Jong man is Saterdag danksy parate omstanders, ’n beskikbare reddingsboei, ’n leerlingreddingswemmer en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gered nadat hy in die Kowie-rivier by Port Alfred in die Oos-Kaap beland het.

Die NSRI is laatmiddag geaktiveer nadat ’n parate klant by Guido’s Restaurant by die westelike strand laat weet het dat iemand deur ’n brander van die westelike pier afgeslaan is en in die Kowie-rivier naby die riviermond geval het.

Keryn van der Walt, NSRI-woordvoerder, sê die ooggetuie was besig om rugby by dié restaurant te kyk toe hy aan vriende gesê het die man “tree vreemd op”.

Die man, vermoedelik in sy vroeë twintigs, het ’n duikpak aangehad en dit het gelyk of hy met ’n tou visvang. Hy was op ’n gedeelte van die westelike pier waar die branders met die inkomende hooggety oor die pier gespoel het.

“Die ooggetuie het toe gesien hoe ’n brander die man van die pier afslaan en hy in die rivier beland. Die ooggetuie het dadelik die bestuurder van die restaurant geroep. Dié bestuurder het eers tot by ’n pienk NSRI-reddingsboei op die westelike strand gehardloop en toe na die westelike pier waar hy die reddingsboei tot by die man in die water gegooi het,” het Van der Walt gesê.

Die man het aan die reddingsboei vasgeklou terwyl branders oor hom gespoel het.

’n NSRI-reddingsboot is intussen ook geaktiveer terwyl die Garmed-ambulansdiens ontbied is. ’n NSRI-leerlingreddingswemmer wat toevallig die omtrek was, het die voorval gesien en dadelik gaan help, al was hy nie aan diens nie.

Hy het sy klere uitgetrek en met sy onderklere in die rivier gespring om die man te help.

Sowat 50 meter in die rivier (van die westelike pier se rigting) het die swemmer die reddingboei gevind, maar geen teken van die man nie.

“Hy het aan die tou van die reddingsboei getrek en weerstand gevoel. Tot sy verbasing het die tou op ’n manier om die man se been gedraai en kon hy hom van onder die water optrek. Teen dié tyd het die man nie asemgehaal nie. Hy het egter kort daarna spontaan begin asemhaal en water opgebring.

“Die Rescue 11 Alpha-reddingsboot het in dié stadium by die man en swemmer aangekom en die man op die boot getrek.”

Noodhulp is op die toneel toegepas waarna die man in ’n ernstige toestand na ’n hospitaal vervoer is waar hy tans aansterk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spotty ·

Hierdie lleerlingreddingswemmer verdien definatief n medalje goed gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.