Man sterf tydens kaping naby lughawe

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

ʼn Sekerheidsbeampte is Dinsdagaand in die omgewing van die King Shaka-lughawe in Durban doodgeskiet nadat gewapende rowers die voertuig waarin hy gery het, gekaap het.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het bevestig dat die voorval omstreeks 23:00 plaasgevind het.

Die slagoffer het saam met sy kollega ʼn veiligheidspatrollie in die betrokke sekerheidsvoertuig uitgevoer toe die kapers toegeslaan en op die voertuig losgebrand het. Albei sekerheidsbeamptes is by ʼn gekontrakteerde sekerheidsmaatskappy werksaam.

Die voertuig, wat oortrek met koeëlgate was, is later verlate in Inanda in Durban gevind waar die kapers dit agtergelaat het.

“Dit is ʼn betreurenswaardige voorval en om ʼn lewe weens sulke wetteloosheid te verloor is veral hartseer. Ons gebede en gedagtes gaan uit aan die slagoffer se geliefdes,” het Mpumi Mpofu, Acsa se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons sal ook nou saam met die polisie en alle sekerheidsmaatskappye by die lughawe werk om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry.

“Die veiligheid van ons passasiers en personeel is altyd ʼn prioriteit. Daar is tans geen onderbrekings in bedrywighede by die lughawe nie.”

Acsa sê die maatskappy sal in dié stadium geen verdere inligting bekendmaak nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Bedank ANC, Ramapokker en spesifiek vir nuttelose en agter Cele. Misdadigers het meer regte as wetsgehoorsame burgers en met polisiemag waar die meerderheid onbevoeg is kan ons niks beter verwag nie.

Marcello ·

Sterkte aan sy familie en vriende, hulle kan trots op hom wees, want hy het gesterf in sy loopbaan om mense te beveilig. RIV.

Althes ·

My innige simpatie met die veiligheidswag se familie.
Dis sulke goed wat mens woedend maak en ook magteloos. Ons sit met ñ jetsetter van ñ minister van polisie en misdaad gedy net.

marius ·

En die hoofman van die hool dink alles is piekfyn . Jammer oor die groot verlies .

Christine ·

Ja Marius, dis nes jy daar sê. Hoe hardloop mens ‘n land waar die hoofman lieg vir internasionale media en leiers dat als onder beheer is. Onbevoegde kriminele aanstuur van hierdie sinkende skip en hulle glo als is ok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.