Man vas ná bejaarde se mesdood

(Argieffoto: Nico Strydom)

’n Man is in hegtenis geneem nadat ’n bejaarde vrou in haar huis op Dundee in KwaZulu-Natal vermoedelik met ’n mes doodgesteek is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê ’n bejaarde egpaar en hul versorger is Donderdag deur twee verdagtes in hul huis in Tom Worthingtonstraat oorval.

Die verdagtes het die slagoffers aangesê om op die vloer te lê en het op kontant aangedring. Die verdagtes het kontant in die huis gevind waarna die vrou, Sukdey Ramauthar (84), met ’n skerp voorwerp gesteek en die verdagtes op die vlug geslaan het.

Die nooddienste is ná die voorval na die huis ontbied en Ramauthar is op die toneel dood verklaar.

Gwala sê ’n voorlopige ondersoek het die polisie na ’n 34-jarige verdagte in die omgewing van Peacevale, nie ver van die misdaadtoneel nie, gelei.

“Hy is in die besit van ʼn mes en bloedbesmeerde klere betrap.”

Die verdagte is in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Dundee op aanklag van moord en roof verskyn.

Volgens Gwala is ’n 45-jarige man intussen ook na die polisiestasie vir ondervraging in verband met die moord geneem.

“Die moord op weerlose vroue en bejaardes sal nie in ons provinsie geduld word nie,” het Gwala gesê. “Ons sal sorg dat diegene betrokke by geslagsgebaseerde geweld verantwoording doen. Ek is bly die verdagte is dadelik aangekeer sodat hy verantwoording vir sy bose dade kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eerlik ·

Wat soek daai stuk gemors in die hof, nogal langs Cele! Laat mens wonder of hy bang was en ook hoe dik die bande met die res in sy ry is!

Skyspy007 ·

Gemors hoort by GEMORS….die hele spul.Een vrot appel in die mandjie bederf almal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.