Man vas wat glo mediese sertifikate verkoop

Die man is met mediese sertifikate betrap wat hy glo verkoop het. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is vroeër vandeesweek in Germiston aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat hy glo mediese sertifikate verkoop het.

Lt.kol. Kelebogile Thepa, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), sê die 31-jarige man is Donderdag vir bedrog vasgetrek.

“Na aanleiding van ʼn wenk oor iemand wat onwettig mediese sertifikate verkoop, het beamptes ʼn woning op Spoorwegstraat besoek waar ʼn man aangetref is,” sê Thepa.

“Hy was in besit van drie mediese sertifikate, ʼn selfoon en ʼn kontantbedrag van R110.”

Die verdagte is in hegtenis geneem en word tans by die Germiston-polisiestasie aangehou.

Dit is in hierdie stadium onduidelik hoeveel mediese sertifikate hy al verkoop het, maar nietemin staar aanklagte van bedrog hom in die gesig.

Hy sal na verwagting binnekort in die Germiston-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.