ʼn 47-jarige man sal na verwagting vandag in die Pietermaritzburg-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn op aanklag van sameswering.
Dit kom nadat hy verlede week in hegtenis geneem is nadat dit aan die lig gekom het dat hy glo van plan was om hoëprofiel sakelui en hul kinders in die Pietermaritzburg-omgewing te ontvoer.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê nadat die Valke van die bewerings bewus geword het, is verskeie geheime operasies uitgevoer om die verdagte vas te trek.
“Tydens die operasies het die verdagte na bewering ʼn gedetailleerde beskrywing van sy eerste teiken gegee, die huis waar die slagoffer aangehou sou word, asook elektroniese toerusting wat gedurende en ná die beweerde ontvoering gebruik sou word,” het Mulaudzi gesê.
“Die verdagte het glo ook gedetailleerde planne verskaf oor hoe die ontvoerings uitgevoer sou word en hoe die toerusting gebruik moes word. Dié planne is egter in die wiele gery deur vroeë ingryping deur die Valke en lede van misdaadintelligensie.”
Mulaudzi sê die verdagte is Vrydag by sy sakeperseel in hegtenis geneem en aangekla van sameswering tot ontvoering.
Die moontlikheid bestaan dat nog mense in verband met die misdaad in hegtenis geneem kan word en dat nog aanklagte moontlik bygevoeg kan word.
Daar gaan ashoop verby sirie en afghanistan as nommer een gevaarlikste land ter wereld en sommer nommer hoof een in die heelal met korrupsie en plunder ….