Man vas wat homself as polisiekaptein voordoen

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn 28-jarige man sal na verwagting Maandag in die Polokwane-landdroshof in Limpopo verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie nadat hy homself in 2019 as ʼn polisiekaptein voorgedoen het.

“Die man het glo gesê hy is ʼn polisiekaptein van die provinsiale menslikehulpbronnebestuurspan,” het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het kontak gemaak met niksvermoedende persone wat graag by die SAPD wou werk en aangesê hulle moet ʼn sekere bedrag geld in verskeie rekeninge inbetaal vir mediese verslae. Hy het gesê hulle moet daarna die kwitansie na die werwingskantoor neem as bewys van betaling.”

Toe hulle by die kantoor opgedaag het, was die slagoffers geskok om te hoor dat hulle bedrieg is. “Sake van bedrog is dadelik aanhangig gemaak en ʼn ondersoek is begin.”

Die verdagte is Vrydag by Lethulipark in Seshego buite Polokwane in hegtenis geneem. “Die verdagte kan moontlik met nog soortgelyke sake verbind word. Die ondersoek duur voort,” het Ngoepe bygevoeg.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die publiek gewaarsku teen bedrieërs. “Die SAPD sal nooit geld eis of versoek vir enige rede tydens die werwingsproses of ondersoeke nie. Die polisie se werwingsvorms is nie te koop nie en poste word op verskillende mediaplatforms geadverteer met duidelike besonderhede. Lede van die gemeenskap moet dié tipe voorvalle dadelik by die polisie aanmeld,” het Ledwaba gesê.

Enigiemand wat op ʼn soortgelyke manier bedrieg is, word versoek om kontak te maak met lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Dus het hy so vinnig gevorder dat hy op 26 al ‘n kaptein is? Daar is hordes wat jare wag vir bevordering, en dit nie kry nie.

Francois Le Cochon ·

Sou nog vinniger gevorder het as hy luitenant, kolonel of brigadier kon spel.

Zoey ·

Let wel: Hy het homself as ‘n polisiekaptein VOORGEDOEN. Hy was nie een nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.