Man, vrou sterf toe motor in rivier beland

Die motor in die rivier. (Foto: ER24)

ʼn Man en ʼn vrou is dood toe die motor waarin hulle gereis het Maandag laatmiddag in ʼn rivier langs die R38 tussen Bethal en Standerton in Mpumalanga beland het. Dit is nie duidelik hoe die motor in die water beland het nie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die nooddienste het omstreeks 17:45 by hul aankoms op die toneel op die motorwrak afgekom waar dit op sy dak in die rivier gelê het. Die vrou was in daardie stadium nog in die wrak in die water vasgekeer.

ʼn Man het langs die oewer van die rivier geloop terwyl twee vroue ʼn ent stroomaf gevind is. Die man en twee vroue het almal geringe tot matige beserings gehad.

Nog ʼn man is op die oorkantse oewer aangetref. Dié man was egter in ʼn kritieke toestand en sy toestand het vinnig versleg.

Paramedici het dadelik KPR en ander gevorderde lewensondersteunende ingrypings op die man uitgevoer. Die man het eindelik aan sy beserings op die toneel beswyk.

Die vrou in die motorwrak was reeds dood toe reddingspanne haar uit die wrak bevry het.

“Die presiese besonderhede rondom hierdie voorval is onbekend, maar die plaaslike owerhede was op die toneel om verder ondersoek in te stel,” het Meiring gesê.

Die motor in die rivier. (Foto: ER24)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.