Marievale-uitsetting: ‘Inwoners is desperaat’

Van die inwoners se hutte is ook na bewering oor die naweek afgebreek. Foto: Verskaf.

Inwoners van Marievale, die ou militêre basis in Nigel, is moedeloos – selfs ná die weermag se aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Johannesburg se uitspraak van 16 Februarie dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se respondente verantwoordelik is vir die regskoste van 14 applikante van Marievale se aansoek om ʼn interdik teen die uitsetting van dié inwoners te bekom Donderdag met koste van die hand gewys is.

Willie Koekemoer, voormalige inwoner van Marievale en hoofaansoeker van dié dringende interdik, het aan Maroela Media gesê inwoners wil net hê geregtigheid moet geskied. “Ons het die saak voor die hof gebring, ons saak is aangehoor en uitspraak is gelewer in ons guns. Regter E Molahleni het dit baie duidelik gestel dat selfs al neem [die weermag] die kwessie na die Appèlhof toe hul nie sal slaag nie.”

Koekemoer vertel dat inwoners steeds toegang tot die perseel geweier word deur gewapende soldate.

“Die inwoners bly in motorhuise, in agterplase en van hulle het plakkershutte opgeslaan in Happy Village, ʼn nedersetting naby Marievale. Kol. Mkhize, bevelvoerder van Marievale, gaan tot in die nedersetting [sowat 500m van Marievale] en vernietig hul watertoevoer. Die mense kry régtig swaar, ek kan nie dink wat gaan gebeur as daar nie uitkoms is voor die koue winter nie. Hulle goedere reën reeds nat,” het Koekemoer gesê.

Van die inwoners se hutte is ook na bewering oor die naweek afgebreek en volgens die inwoners kry veral die klein babatjies baie swaar in dié omstandighede.

Koekemoer het verder gesê dat die plaaslike polisie in Dunottar hulle ook nie wil bystaan nie selfs al het die inwoners die nodige hofdokumente aangesien die polisie beweer hulle het nie die nodige taakspan vir die kwessie nie.

Hy sê Mkhize het “in ʼn poging tot verdere intimidasie” die inwoners van Marievale genooi vir ʼn Paaskerkdiens maar dat nie een van die inwoners die diens bygewoon het nie. “Daar was gewapende soldate by die kerkdiens. Geen inwoner het gegaan nie omdat hulle bang is vir die weermag en daardie vrees heers sedert die eerste uitsettings begin het.”

Maroela Media het in Desember berig inwoners van Marievale is sonder heenkome gelaat nadat die weermag glo ondanks die hofinterdik voortgegaan het om inwoners gewelddadig uit hul huise te sit.

Koekemoer het destyds aan Maroela Media gesê ʼn dringende interdik is op 1 Desember 2017 deur die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan waardeur die uitsetting van inwoners van Marievale verhoed word. Koekemoer beweer die weermag het egter ondanks die interdik bloot voortgegaan om inwoners uit te sit en toegang tot hul wonings in die basis te weier.

Louise du Plessis, van Lawyers for Human Rights in Pretoria het volgens Koekemoer die saak oorgeneem en sal die inwoners voortaan gratis verteenwoordig.

Koekemoer het gesê dat hy graag eendag sal wil terugkeer na Marievale.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag, het aan Maroela Media gesê hy is nie bewus van Donderdag se hofuitspraak nie en sal by die SANW se regspan navraag doen. Maroela Media wag op kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

snoefie ·

dalk tyd dat kol mkhize die binnekant van n gewone polisiesel as sy woon plek kry.

Jan Publiek ·

Hoeveel van hierdie mense is uitlanders – wat eerder na hulle eie lande toe moet teruggaan. Daar sal hulle woonplek kry.
Ons kan nie almal hier akkomodeer nie en het ook nie meer genoeg water vir uitlanders ook nie.

NOPE ·

Nee dit lyk asof dit witmense is wat aanvanklik toestemming gekry het om daar te bly (sien vorige berigte) toe word dit teruggetrek deur die rassistiese owerhede . hulle gooi maklik wit families uit maar NIE so maklik hulle eie mense nie . …

Willem Koekemoer ·

Lees die vorige berigte , daar was uit 600 inwoners sowat 148 huisgesinne waaronder SANDF veterane was , velede jaar 2017 24 Mei net 4 -onwettige imigrante wat lankal reeds gedeporteer is

snoefie ·

ye besig met groot media sake om hulle tyd aan so n nietigheid af te staan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.