Maroela Media se joernaliste beloon vir puik werk

Joernaliste van Maroela Media is Vrydagaand tydens ʼn spesiale interne toekenningsgeleentheid beloon vir hul werk die afgelope jaar.

“Vir my is die heel belangrikste vrug op die werk van die afgelope jaar wanneer ek met mense buite Maroela gesels en hoor dat hulle Maroela sien as ʼn mediahuis wat optree met integriteit en etiek; ʼn mediahuis wat werklik ons Christelike fondamente uitleef,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, tydens die geleentheid gesê.

“Daar is vir my geen belangriker maatstaf van sukses nie. Hiervoor gee ek aan God al die eer – want soos die Woord sê, die mens kan plant en water gee, maar net God kan laat groei.”

Maroela Media se Byl-toekenning word vir goeie ondersoekwerk en/of uitnemende joernalistiek toegeken.

Janice du Plessis

Janice du Plessis is vanjaar met die toekenning bekroon vir die ongelooflike groei wat sy as verslaggewer getoon het en die groot empatie waarmee sy stories aanpak.

Johann Gresse is benoem vir sy uitstekende dekking tydens die afgelope Rugbywêreldbeker, terwyl Megan Swart ʼn benoeming ontvang het vir haar beriggewing oor korrupsie binne die Tshwane-metropolisie.

Pieter Cloete is benoem vir sy video-onderhoud met ʼn Suid-Afrikaner wat nou ʼn soldaat in Oekraïne is, terwyl Tania Heyns haar as ʼn opkomende sake- en politieke joernalis onderskei en hiervoor benoem is.

Die Ink-toekenning word weer toegeken vir ʼn besonderse bydrae tot Maroela Media se sagtenuus-aanbod, wat leefstyl-, vermaak- en goeie nuus insluit. Vanjaar se toekenning is aan Leonie Bezuidenhout en Mizanne Hattingh toegeken vir hul etiese beriggewing rakende die akteur Bradley Olivier se dood.

Mizanne Hattingh, Jhua-nine Wyrley-Birch en Leonie Bezuidenhout

Bezuidenhout is ook benoem vir haar onderhoud met die sanger Steve Hofmeyr, terwyl Hattingh ook benoem is vir haar onderhoud met die man wat Alison Botha destyds gered het toe sy vir dood agtergelaat is.

Jhua-Nine Wyrley-Birch het verskeie nominasies vir haar videoberiggewing ontvang. Sy en Hattingh is onder meer ook benoem vir hul beriggewing oor die Wes-Kaapse vloede, en spesifiek oor slagoffers in die Strand-gebied. Christa Steyn-Bezuidenhout is benoem vir die uitbreiding en verdieping van taalinhoud op Maroela Media – nuwe omskrywings van Afrikaanse woorde en terme, skrywersonderhoude wat met diepte en insig aangepak is, en teater- en kunsresensies.

“Maroela Media is regtig trots op die wyse waarop sy inhoud weereens oor die afgelope jaar verdiep het. Joernaliste het hulle op verskeie gebiede as spesialis-verslaggewers begin onderskei en dit is vir ons belangrik om topjoernalistiek te beloon,” het Nico Strydom, Maroela Media se redakteur, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.