Maroela Media vier 3de verjaardag en talle hoogtepunte

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

Maroela Media vier vandag, op 29 Julie, nie net sy derde verjaardag nie, maar ook talle hoogtepunte en mylpale wat dié media-instansie die afgelope drie jaar bereik het.

Dié nuus- en inligtingswebwerf het die afgelope maand meer as 800 000 besoeke en sowat 340 000 unieke besoekers gehad, en 2.4 miljoen bladsye aan besoekers bedien.

“Toe ons drie jaar gelede ons digitale deure geopen het met ʼn vurige debat oor Afrikaanse protesmusiek, het ons kwalik kon dink dat ons oor drie jaar hier sal staan,” sê Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media. “In die eerste maand van ons bestaan het ons 7 000 besoeke gehad. Tóé het ons gedink dis wonderlik – en dit was, vir ʼn splinternuwe rolspeler in die Afrikaanse mediabedryf. Maar ons sou nooit kon dink dat ons drie jaar later byna ʼn miljoen besoeke per maand sal ontvang nie.”

In ʼn berig wat in September 2011, kort na Maroela se bekendstelling, in Die Burger gepubliseer is, is Maroela beskryf as ʼn “platform… waar Afrikaanssprekendes hul stem kan laat hoor” en “die Afrikaanse kunste, letterkunde en musiek bevorder; om ʼn knooppunt te wees vir Afrikaanse ondernemings… en ander inisiatiewe”. Dié digitale platform het egter sy eie loop geneem, en vandag is die nuus op Maroela verreweg die gewildste inhoud op die webwerf.

“Ons was nooit van plan om ʼn nuuswebwerf te wees nie,” sê Nico Strydom, Maroela Media se nuusredakteur. “Die plan was om op stadige nuus te fokus – om eerder kommentaar oor die nuus te lewer en om debat oor aktuele aangeleenthede te stimuleer. Ons sou daagliks net die enkele belangrikste nuusstories dra.”

Dit het egter gou duidelik geword dat Maroela Media se lesers ʼn behoefte het aan ʼn alternatiewe Afrikaanse nuusplatform, en Maroela het op dié aanvraag reageer deur nuus op die webwerf uit te brei en die nuusspan groter te maak.

“Ons bly egter in wese ʼn Afrikaanse kuierplek op die internet,” sê Lombaard. “In ʼn gemeenskap waar mense dikwels te bang is om uit hul huise te gaan en saam met hul bure te kuier, wil ons op die internet ʼn digitale gemeenskap skep waar Afrikaanssprekendes kan saamkuier, boeretroos kan drink, resepte kan uitruil, kan debatteer en ingelig kan bly. Ons boereretro-ontwerp het juis ten doel om ons lesers te laat voel asof hulle in ouma se kombuis kuier met ʼn stukkie melktert en rooibostee.”

Inligting op Maroela Media is boonop gratis vir lesers beskikbaar. “Ons glo inligting, en veral nuus, moet gratis wees,” sê sy. “Mense betaal duur vir internettoegang in Suid-Afrika. Boonop wys internasionale tendense dat betaalmure vir nuusplatforms selde suksesvol is. Dis ʼn groot uitdaging om ʼn inkomste te genereer uit ʼn digitale platform, maar ons glo ons begrip van die digitale omgewing en mense in ons span met die nodige ervaring en kundigheid is die suksesresep wat ons in staat kan stel om die model te laat werk.”

Maroela Media spog ook met ʼn radioproduksiehuis, Draadloos, wat gratis radioprogramme verskaf aan 16 Afrikaanse gemeenskapsradiostasies landswyd, ten einde in baie van dié stasies se behoefte aan Afrikaanse inhoud te help voorsien. “Buiten programinhoud bied Draadloos jaarliks ʼn seminaar vir Afrikaanse gemeenskapsradiostasies aan wat met behulp van die nuutste tegnologie tegelyk in Gauteng en die Kaap gefasiliteer word,” sê Esté Meyer Jansen, Draadloos se radioprogrambestuurder. “Gemeenskapsradiostasies doen ongelooflike werk om Afrikaans in hul grootliks plattelandse gemeenskappe te laat floreer. Dis hierdie tipe inisiatiewe wat uiteindelik sal verseker dat Afrikaans oorleef.”

Lombaard stem saam. “Afrikaans is ons hartklop,” sê sy. “Uiteindelik gaan dit by Maroela Media nie vir ons oor nuus of inligting nie, maar oor Afrikaans. Die media is een van die hoë funksies waarin ʼn taal moet funksioneer om te kan oorleef. In die media beteken dit nie noodwendig dat dit in ʼn gedrukte formaat hoef te wees nie. Dis algemene kennis dat die sirkulasiesyfers van talle Afrikaanse koerante besig is om dramaties af te neem. Dit beteken egter nie Afrikaans is besig om sy vastrapplek in die media te verloor nie – ons moet net seker maak dat dié vastrapplek van gedrukte na digitale media verskuif.”

Maroela Media se slimfoon-app vir iPhone- en Android-fone is onlangs beskikbaar gestel, en is gratis op die iStore en Google Play-winkel beskikbaar. Gebruikers van sosiale media kan by Maroela Media aansluit op Facebook, waar die platform reeds byna 30 000 volgelinge het, asook op Twitter en Youtube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Trippie ·

Susan, Nico, Herman, Phillip, en laastens maar nie die minste, Sune, BAIE GELUK, ook met jul puik beriggewing.

Groete, en doen so voort.

Sune van Heerden ·

Dankie Trippie! Daar is darem ‘n hele span wat agter die skerms werk.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johann ·

Baie geluk aan almal wat betrokke is om Maroela so suksesvol te bedryf en te bestuur.

God se ryke seën word julle toegewens.

Mag julle net van krag tot krag gaan.

Ek klink ‘n glasie op julle sukses en harde werk.

Sterkte.

Elize ·

Baie geluk met jul 3de verjaardag. Mag julle van krag tot krag gaan. Dankie vir al die nuus wat so getrou ons huise vul. Doen so voort!

S Mathers ·

Eitou potato . Wie ‘s die kunstenaar wat vir julle die kenteken ontwerp het ? Het nogal heelwat van die bestandele in . Hou vol

Eduan Liebenberg ·

Sjoe dit voel vir my soos gister ek onthou nog wat was vir ontbyt. Dankie en baie geluk dit is so lekker om al die nuus vars, vriendelik,vrolik en in Afrikaans te kry. Doen so voort vir nog 100 jaar asb.

Groete

Eduan

Trippie ·

SUNE : Dis sowaar ‘n voorreg om jou te sien kommunikeer hier met ons, die lesers. Jy is ‘n STER !

Grassie ·

MAROELA – baie geluk met jul eerste drie jaar. Dankie vir die hoë standaarde wat julle handhaaf ten opsigte van taalgebruik en inhoud van jul berigte. Julle is die enigste nuuswerf waar ek as behoudende Afrikaner werklik tuis voel.

Elizabeth ·

Geluk almal by Maroela. Siende dat mens mos nie meer eintlik Beeld gratis kan lees tensy jy inteken, nou is daar minstens Maroela. En ek weier om in te teken vir Beeld – hul kry mos inkomste uit advertensies. Ek kan hier buite die stad nie hul koerant kry nie, dis te ver om afgelwer te word. Nou word mens “gestraf” en soort van gedwing om teen ‘n koste in te teken om op hoogte van wêreldgebeure te bly. Na ‘n sekere aantal berigte word mens geblok en vertel jy het jou kwota gratis lees bereik! Hier kry ons ook nuus wat heeltyd opdateer word – dus die jongste nuus vars uit die “blik”! EN DIT ALLES GRATIS! En natuurlik geniet ek ander dinge soos die gedigte en ander taaltoffie goete baie. Dankie weer Maroela!

Helene Heyns ·

Baie geluk met jul derde verjaardag. Ek sê Maroela bo!!!!. Baie dankie vir die heerlike nuusgenot elke dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.