Martiné wil weer universiteit toe ná ongeluk

Martiné Degenaar. (Foto: Verskaf)

Martiné Degenaar – een van die oorlewendes van die gru-ongeluk waarin drie van haar vriendinne en drie ander naby Jan Kempdorp gesterf het – beplan om volgende jaar as ʼn tweedejaarstudent na Potchefstroom terug te keer.

“My hart is nog baie seer, maar die Here is darem baie goed vir my en dra my elke dag,” het Martiné Donderdag aan Maroela Media gesê. Sy kan egter niks van die gru-ongeluk onthou nie. “Ek dink die Here probeer my beskerm.”

Martiné was die aand van 29 Oktober saam met die sussies Janke en Lize Coetzer, hul neef Albie en vriendin Odine Swanepoel op pad na ʼn restaurant in Hartswater toe hul Volkswagen Polo reg van voor teen ʼn Hyundai Tucson op die N18 tussen Jan Kempdorp en Hartswater gebots het.

Sy en Albie is die enigstes om die ongeluk te oorleef.

Martiné het bloeding op die brein, ʼn skedelfraktuur, drie gebreekte ribbes en ʼn lewerskeur tydens die ongeluk opgedoen. Een van die gebreekte ribbes het haar long in die proses raakgesteek.

Martiné vertel dat sy ná die ongeluk tien dae lank in die Lenmed-hospitaal in Kimberley aangesterk het voordat sy eindelik met ʼn ambulans na haar ouerhuis in Pretoria vervoer is. Sy besoek sedertdien gereeld ʼn arbeidsterapeut en sielkundige.

Die jongste x-strale toon wel dat haar skedelfraktuur mooi aangegroei het, wat beteken dat sy nie meer ʼn nekstut hoef te dra nie. Martiné se gebreekte ribbes het ook byna heeltemal herstel.

“Ek is so dankbaar. Ek is baie bevoorreg,” sê Martiné oor haar vinnige herstelpad.

Die laaste ding wat sy kan onthou, is dat hulle die oggend gaan tennis speel en nog by die kerk gaan swem het. “Toe gaan ons huis toe om klaar te maak, want ons sou saam met vriende gaan uiteet het. Ek kan niks verder onthou nie.”

Maroela Media het vroeër berig Albie is ná die ongeluk vir ʼn maand in die Lenmed-hospitaal behandel voordat hy na die Life Pasteur-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is.

Albie het onder meer breinbeserings en ʼn fraktuur aan sy heup tydens die ongeluk opgedoen en moet nou van voor af leer praat, eet, loop en selfs sit. Hy kan ook nie die ongeluk onthou nie.

“Dit gaan elke dag beter met hom en ons is dankbaar dat hy al so ver gevorder het en uit kritieke sorg is. Ons besef wel die pad vorentoe gaan lank en moeilik wees,” het sy ma, Hanlie Coetzer, vandeesweek aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.