Masels versprei na Mpumalanga

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Met die verspreiding van masels van Limpopo na Mpumalanga bestaan die risiko dat die uitbreking nog verder in die land kan versprei.

Só het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) Donderdag gesê toe hy die aantal maselgevalle in die land bekendgemaak het.

Volgens Nios is vyf gevalle van masels die afgelope week in die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga aangemeld. Hierdie distrik grens aan die Groter Sekhukhune- en Mopani-distrikte in Limpopo, wat die eerste maselgevalle in September bevestig het en elkeen nou op 23 bevestigde gevalle staan.

Die gevalle het toe verder na die Capricorn- en Waterberg-distrik in Limpopo versprei en hierdie distrikte het sedert die uitbreek van masels elkeen drie gevalle bevestig.

Twee gevalle is ook in die Vhembe-distrik aangemeld, waarvan een van die gevalle epidemiologies aan die maseluitbreking in Zimbabwe gekoppel word.

“Dit beteken dat altesaam 59 gevalle van masels tussen 1 September en 16 November in Limpopo en Mpumalanga aangemeld is,” het Nios bevestig.

Die hoogste voorkoms van masels in die twee provinsies is onder kinders tussen die ouderdomme van 13 maande en vier jaar oud asook tussen vyf jaar en nege jaar oud.

In 86% van die gevalle kon daar nie vasgestel word of die kinders teen die virus ingeënt is nie.

Maselentstofdosisse word gereeld tussen die ouderdomme van ses en 12 maande toegedien.

“In die Groter Sekhukhune-distrik is die hoogste voorkoms van masels by persone tussen die ouderdomme van ses maande en 24 jaar oud en in die Mopani-distrik is dit by persone tussen twee jaar en 42 jaar oud.

“In die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga het babas en kinders tussen 18 maande en tien jaar oud die virus opgedoen.”

Geen sterftes of ander komplikasies is tot dusver in die provinsies aangemeld nie.

Volgens Nios gaan die distrikte wat deur die uitbreking van masels geraak word, voort met openbare gesondheidsreaksies om mense op te spoor wat in aanraking was met diegene wat deur die virus besmet is. Inentings is ook nodig om die verdere verspreiding van masels hok te slaan.

Masels word deur die rubeola-virus  veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë en loopneus. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor onder ondervoede kinders en babas onder twee jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marius ·

Die klinieke en hospitale het nie eers pleister nie . Wat nog van entstof .

George ·

Elke kliniek wat ons gebel het, het gehad, mense is net te lui.

Delia ·

Die ironie is..die klinieke het. Dis iets wat Dept van Gesondheid nog goed doen

Perdeby ·

Liewe genugtig mense masels / Duitse masels / waterpokkies is algemene siektes wat voorkom. Ek het al hierdie “kindersiektes” gehad. Duitse masels het ek 3 jaar agter mekaar as ‘n volwasse gehad. Kinders gaan skool / kleuterskool toe sonder dat hulle weet hull het dit eers.

Pietertjie ·

Jy neem die woorde so uit my mond. Volgende wat ons hoor is dat tone-stamp ‘n aanmeldbare toestand is.

Delia ·

Gaan kyk na die komplikasies van masels en duitse masels en duitse masels vir n swanger vrou. Dis juis agv inenting dat dit nie meer voorgekom het nie.
Jy is een van die gelukkiges met geen komplikasies

Delia ·

Dis n bewys van ouers wat nie saamwerk. Die entstof is daar

domheks ·

Het gedink by geboorte kry hulle al entstof. Voordat jy in ‘n skool toegelaat word moet jou kaart volledig wees met inenting teen ALLE aansteeklike siektes.
O! Ekskuus was voor 1994.

Hendrik ·

Dit lyk of die masels net in die swart gemeenskappe voorkom. Is hierdie kinders dan nie ingeent soos voorgeskryf deur die owerheid nie? Moet die owerheid nie nou in te tree en kyk of die inentingsprogram werk en indien nie moet dit reggestel word. Of word die hele staatsdiens nou ‘n verhoging gegee van 7% en hulle doen niks werk nie.

Delia ·

Hendrik. Ouers gee nie gehoor…van alle kleure. Dienste is daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.