Masondo, Lucas onbestrede in Nasionale Raad van Provinsies verkies

Amos Masondo. (Foto: Shayne Robinson/SAPA)

Die Nasionale Raad van Provinsies het twee lede van die ANC onbestrede tot voorsitter en ondervoorsitter verkies.

Die voormalige burgemeester van Johannesburg en oudvoorsitter van die parlement se staande komitee oor etiek en ledebelange, Amos Masondo (ANC, Gauteng), is tot voorsitter verkies.

As ondervoorsitter het Sylvia Lucas (ANC, Noord-Kaap), oudpremier van die Nood-Kaap, die paal gehaal. Haar verkiesing is uit die openbare galery begroet met uitroepe van “KFC, KFC!”, met klaarblyklike verwysing na die hoeveelheid braaihoender en ander kitskos wat sy bestel het toe sy nog premier was.

Seiso Mohai (ANC, Vrystaat) is onbestrede tot hoofsweep van die raad verkies.

Alle provinsies en politieke partye het hul ondersteuning aan die voorsittende beamptes betuig, solank hulle onpartydig optree.

Al 54 permanente lede (ses per provinsie) is sonder voorval ingehuldig en die raad kan nou begin funksioneer. Die doel van die Nasionale Raad van Provinsies is om provinsies en munisipaliteite se belange te beheer en te monitor, en om as herbesinningsplek vir wetgewing te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lunsriem ·

Nasionale raad van provinsies is niks anders as “dumping ground for redundant politicians” sodat hulle kan aanhou soustrein ry.

Gert van Wierdapark ·

Dan is maar so! Die slag is die stemtellery seker vinniger afgehandel as gister on die Parlement!

PJC ·

Hopelik gaan een of ander kommissie vir Sylvia Lucas ook sink want sy teer op die belastinbetaler.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.