Matriek laat manne les opsê met skaapskeer

Jean-Mari Jordaan by die Nasionale Interskole-skaapskeerkompetisie. (Foto: Verskaf)

ʼn Matriekleerder by die Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam in die Wes-Kaap staan vir niemand terug as dit kom by skaapskeer nie – veral nie vir die mansgeslag wat dié sport oorheers nie.

Jean-Mari Jordaan (19) het ʼn liefde vir skaapskeer ontwikkel nadat sy as ʼn gr. 8-leerder vir die eerste keer daarvan by die skool gehoor het.

“Ek kom nie van ʼn plaas af nie; inteendeel, my pa was in die bediening en ek het by die skool gehoor van skaapskeer. Ek het gedink dit is iets interessants wat vir my ʼn uitdaging kan wees,” sê sy.

“Ek hou daarvan om myself op te bou met uitdagings soos hierdie, al breek dit jou aanvanklik eers af.”

Sy het vanjaar, nadat die Covid-19-pandemie almal se planne omvergegooi het, gekwalifiseer om die Wes-Kaap-skole se Skaapskeerspan by die Nasionale Interskole-skaapskeerkompetisie in Bloemfontein te verteenwoordig. Hier het sy as een van enkele vroue teen die meerderheid jong mans meegeding.

Sy kon dit eindelik regkry om ʼn skaap binne vyf minute en 60 sekondes te skeer en het ʼn tweede plek in haar ouderdomsgroep behaal.

“Hoewel dit by kompetisies gaan oor spoed, kyk hulle ook na hoe goed die gehalte van die skeersel is. Vir seuns gaan dit oor spoed, maar vir meisies, wat rustiger is, oor gehalte. Ek was so geëerd om in daardie omgewing te kan skeer en my vaardighede ten toon te stel,” sê sy.

Jordaan het met die aanvang van haar hoërskoolloopbaan, terwyl sy eintlik nog te jonk was om skaapskeer te beoefen, probeer om ʼn kursus in skaapskeer te voltooi. Hoewel sy nie daarin kon slaag nie, het sy vasberade gebly, haar kragte opgebou en in 2019 met ʼn internasionale kwalifikasie vir masjienskeer weggestap. Sy het ook onlangs ʼn kursus in handskeer voltooi.

As deel van die skool se span skeerders, oefen sy weekliks saam met die jonger garde om haar tegniek te verfyn.

“Die oefening behels dat ʼn mens dikwels self skape skeer, sommer op plase in die omgewing. Soms sal ons die posisies oefen waarin jy skeer. Dit is so belangrik dat jy ʼn soort denkwyse aanleer. As jy in die verkeerde posisie is, is die skaap dikwels onrustig en dan sukkel jy. Jy moet jouself kalm hou, van posisie verander en voortgaan,” sê Jordaan.

“Fisieke oefeninge soos om gimnasium toe te gaan of te draf help ook om jou fiks en sterk te hou. Dit hou ʼn baie groot voordeel vir ʼn mens in by kompetisies.”

Jordaan raai dat sy oor die afgelope paar jaar reeds meer as 150 skape geskeer het. Met dié dat sy aan die interskole deelgeneem het, het haar tegniek en tyd waarteen sy skape skeer ook aansienlik verbeter.

Hoewel daar nou al vir Jordaan geleenthede is om by professionele skeerspanne aan te sluit, sê sy as matrikulant kom haar akademie nou eerste. Haar hart lê egter steeds by skaapskeer en sy hoop om op universiteit steeds in die sport mee te ding.

Jordaan hoop om by die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut B.Agric in Veekunde te studeer en later oor te skakel na genetika toe.

“Ek stel baie belang in genetika. Ek sal graag genetika wil bestudeer om te sien hoe dit gebruik kan word om diere van beter gehalte mee te teel,” sê sy.

“Maar skaapskeer sal altyd vir my belangrik wees. Só ʼn vaardigheid is iets waarvan jy nie ontslae kan raak nie. Dit bly in jou bloed.”

Met haar internasionale skeerkwalifikasie is die moontlikhede boonop eindeloos en kan sy selfs oor die hele wêreld ʼn loopbaan in skaapskeer nastreef.

“Ek oorweeg dit om in die toekoms self ʼn instrukteur te word. Voor dan gaan ek egter baie meer ervaring moet opdoen, maar ek sien uit na die uitdaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

boerie ·

Ek wonder nog steeds van wanneer af is 60 sekondes nie meer n minuut nie.(5minute en 60 sekondes)

Miena ·

Dis nou n brokkie goeie nuus!!! Positief. Dankie. en baie geluk Jean-Mari. Sterkte vorentoe vir jou meisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.