Matrieks: Eerste eindeksamen-vraestelle ‘heel billik’

Argieffoto

Die onderskeie Engelse vraestelle wat matrieks vanoggend as hul eerste vraestel in vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen geskryf het, was heel billik en op peil.

Só sê Elrene du Plooy, departementshoof in Engels by Hoërskool Zwartkop in Centurion. Die onderskeie vraestelle in Engels huistaal, Engels eerste addisionele taal en Engels tweede addisionele taal is omstreeks 09:00 oor die hele land geskryf.

“Die kinders is baie gelukkig. Dit het wonderlik goed gegaan en hulle was goed voorberei.”

Volgens Du Plooy was daar tog ook ’n paar uitdagende vrae in dié vraestelle van twee uur elk wat sekerlik vir kopkrap sou sorg.

Elizna Rousseau, matriekleerder aan die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria, is ook gelukkig met die eerste vraestel van haar eindeksamen.

“Ek het regtig lekker geskryf. Ek het so gestres omdat dit die eerste een van die eksamen is, maar ek dink dit het baie goed gegaan.”

Elizna vertel hoewel sy met een vraag geswoeg het, het sy betyds met haar vraestel klaargekry. Dít nadat sy in die rekordeksamen met haar tydsbestuur gesukkel het.

Braam Wiid van die Hoërskool Kalahari in Kuruman sê hoewel hy nie ’n taalboffin is nie, is hy meer as tevrede met die vraestel. Braam het Engels eerste addisionele taal geskryf.

Hy vertel dat die vraestel van twee uur lank ook oorgenoeg tyd gebied het. Braam het sy pen neeergesit, tien minute voor die tyd verstryk het.

Elizna en Braam skuif albei vanmiddag weer voor die boeke in om hulle voor te berei vir die eerste wiskundevraestel wat Vrydag geskryf word.

“Die gees by die skool was baie lekker vandag. Al my pelle het gesê hulle is bly die eerste een is klaar. Nou nog net 12 om te gaan!” skerts Braam.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys en jeugontwikkeling in Gauteng, het gesê die nodige voorbereidings is gedoen om te verseker dat vanoggend se vraestelle vlot verloop het.

Nodige reëlings is getref om te verseker dat geen kragonderbrekings die eksamen ontwrig nie. Die departement het ook met die provinsie se taxiverenigings in aanraking gekom om te verseker dat leerders betyds vir die eksamen was.

Sowat 112 000 leerders het vandag ’n vraestel geskryf, sê die LUR.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

elsie smith ·

Ja Piet
Lyk my Hennie soek geselskap ..
Dalk moet ons die vraestel vir jou gee Hennie -wonder of jy jou sogenaamde graad 10 Engels sal slaag !
Met so kommentaar maak jy graad 12 leerders , ouers en onderwysers (soos ek) moedeloos.
Soos ek altyd vir my leerders se: “Dink voor jy doen …”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.