Matriekuitslae ‘belangrike barometer’, maar kyk ook verder

(Foto: Maroela Media)

Vanjaar is ʼn verkiesingsjaar en sommige kenners maan dat die matriekuitslae dalk met ʼn groter knippie sout as gewoonlik geneem moet word.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bestempel die matriekuitslae as een van die belangrikste barometers van die gesondheid van die land se onderwysstelsel en die nasionale slaagsyfer van 82,9% toon ʼn verbetering (van 2,8%) in vergelyking met dié van verlede jaar. Die vraag moet egter gevra word of die syfer ʼn ware weerspieëling van die gehalte van onderwys in Suid-Afrika is.

“Die feit dat vanjaar ʼn verkiesingsjaar is, kan nie geïgnoreer word nie en politieke motiewe het duidelik ʼn rol in die minister [van onderwys, Angie Motshekga] se aanbieding van die uitslae gespeel,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS.

“Die prestasie van provinsies soos die Vrystaat en KwaZulu-Natal, wat tradisioneel nie as akademiese voorlopers beskou word nie, laat ook wenkbroue lig, veral in die lig van die Wes-Kaap se onverwagse vyfde plek. Dit laat ʼn mens wonder oor die betroubaarheid van die resultate.”

Die Vrystaat het die beste presteer met ʼn slaagsyfer van 89,03%, gevolg deur KwaZulu-Natal (86,3%), Gauteng (85,38%), Noordwes (81,63%), die Wes-Kaap (81,54%), die Oos-Kaap (81,42%), Limpopo (79,54%), Mpumalanga (76,95%) en die Noord-Kaap (75,84%).

Prestasie gegrond op ‘inklusiwiteitsmandjie’

Die raad van onderwysministers het ʼn sogenaamde provinsiale inklusiewe mandjie goedgekeur om monitering en evaluasie van alle provinsiale onderwysdepartemente te verseker.

Dié mandjie sluit in prestasie in die Nasionale Senior Sertifikaat‑eksamen volgens die skoolgeld-betalingstatus van skole; prestasie in kritieke vakke soos rekeningkunde, wiskunde, fisiese wetenskap en tegniese wetenskap; deelname aan wiskunde; matriekvrystelling; die getal leerders met onderskeidings; en die deurvloeikoers.

Wanneer hierdie kriteria gebruik word, het Mpumalanga, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap die hoogste deurvloeikoers behaal.

Die Vrystaat, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng het hoër persentasie-slaagsyfers behaal, terwyl die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes groter deelname aan wiskunde het ingevolge skoolgeldstatus.

Limpopo en die Vrystaat het ingevolge dié kriteria beter prestasies in rekeningkunde.

Die Wes-Kaap, die Vrystaat, Gauteng en Noordwes het – wanneer na skoolgeldstatus gekyk word – hoër prestasies in wiskunde en fisiese wetenskap. Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het ook ʼn hoër slaagsyfer met onderskeidings, het Motshekga vroeër bekend gemaak.

Ander faktore speel ook rol in sukses   

Die SOS sê presterende skole, ook in minder bevoorregte gemeenskappe, bewys dat goeie bestuur, bekwame onderwysers en leerders wat deur hul gemeenskappe aangespoor word, ʼn beduidende uitwerking kan hê. Die feit dat skole wat groter beheer oor hul onderrig neem, beter presteer, spreek egter teen die regering se sentralistiese beleid wat nie tot die beste opvoedkundige uitkomste lei nie.

“Goeie onderrig en betroubare standaarde, soos dié van die IEB, kan nie afgemaak word as bevoorregting nie. Faktore soos ʼn sterk skoolhoof, gedissiplineerde onderwyskorps, ʼn kultuur van werk en toewyding, lae afwesigheid van leerders en onderwysers, beperkte negatiewe impak van vakbonde, goed opgeleide onderwysers en betrokke ouers is die rede vir die sukses van ʼn skool,” sê Buys.

Sy sê ook terwyl die prestasies van matrikulante gevier word, moet daar ook erken word dat ʼn slaagsyfer “nie die volle verhaal” vertel nie.

“Ons moet streef na ʼn onderwysstelsel wat nie net hoë slaagsyfers lewer nie, maar ook een wat billike en gehalteonderrig aan alle leerders voorsien. Sukses word nie net deur ’n syfer gemeet nie, maar veral deur die vermoë van leerders om die uitdagings en geleenthede van die toekoms aan te gryp.”

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en die party se hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, stem saam dat die werklike toets vir die hoër slaagsyfer in verdere studie en in die arbeidsmark lê.

Die minister het tereg daarop gewys dat oordrewe aandag aan die slaagpersentasie ʼn onvolledige prentjie skets, sê Boshoff.

“Die werklike toets vir matriek is egter of suksesvolle matrikulante ook suksesvolle naskoolse studente, entrepreneurs, of toetreders tot die arbeidsmark is. Matriek is immers nie ʼn doel op sigself nie, maar voorbereiding vir die res van die lewe.”

Boshoff het diegene wat goed presteer het, gelukgewens; hy het terselfdertyd diegene wat nie die gewenste uitkomste behaal het nie, aangemoedig om nie moed op te gee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.