Medestigter van satanistiese kerk in SA bekeer hom

Riaan Swiegelaar vertel waarom hy die satanistiese kerk en satanisme die rug gekeer het. (Foto: Facebook)

Riaan Swiegelaar, medestigter en woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Satanistiese Kerk, het dié organisasie die rug gekeer en hom tot God bekeer.

Swiegelaar verduidelik in ʼn Facebook-video hoe hy in die eerste plek by satanisme betrokke geraak het en wat tot sy bekering gelei het. Die video is Maandag op sy Facebook-blad gedeel, na aanleiding van “verskeie versoeke om onderhoude” wat hy glo die afgelope paar dae ontvang het.

“Ek het aanklank daarby gevind omdat ek baie gebroke en baie hartseer was, sonder dat ek dit besef het. Ek dink die rede waarom soveel mense by satanisme aanklank vind, is omdat hulle uit ʼn gebroke plek kom.”

Hy het die afgelope drie jaar duisende sataniste ontmoet en die een ding wat hulle almal gemeen het, is dat hulle gebroke is, sê Swiegelaar.

Swiegelaar het sowat vier jaar gelede by satanisme betrokke geraak en het daarna gehelp om die satanistiese kerk in die openbaar bekend te stel. “In daardie stadium het ek geglo dit is my waarheid en dit is wat my werklikheid is – maar ek het nie besef hoe gebroke ek was nie.

“Ek is nie vandag hier om te sê ek is nie ʼn slagoffer nie. Ek was beslis nog nooit ʼn slagoffer nie en het ook nog nooit beweer ek is nie.”

Swiegelaar verduidelik dat hy sy lewe lank nog nooit onvoorwaardelike liefde ondervind het nie, maar dat ʼn handvol spesifieke Christene dit onlangs aan hom gewys het.

Die keerpunt was toe hy sowat twee maande gelede ʼn onderhoud by ʼn Kaapse radiostasie gedoen het. Daar het hy ʼn vrou ontmoet met wie hy vantevore nog net aanlyn kontak gehad het, terwyl reëlings vir onderhoude met hom getref is. Sy het ná sy onderhoud – vir die eerste keer in persoon – na hom gekom en hom vasgehou en gedruk, vertel Swiegelaar terwyl hy trane afvee.

In dié onderhoud het Swiegelaar onder meer gesê hy glo nie in Christus of dat Jesus Christus bestaan nie en “ek hét ook nie”.

“Selfs nadat ek dit gesê het, het sy vir my ʼn druk gegee en my vasgehou op ʼn manier waarin ek nog nooit liefgehad was nie.”

Swiegelaar sê hy het later op Facebook gesien dié vrou is ʼn Christen en haar optrede het hom bygebly. ʼn Week later moes hy ʼn satanistiese ritueel uitvoer om hom te wys hoe sy pad vorentoe lyk en hoe hy meer mag kan bekom, toe Jesus aan hom verskyn het.

“Jesus het verskyn en ek was geweldig arrogant en het gesê ‘wat ook al’. As jy Jesus is, bewys dit,” vertel hy in trane in die video.

“Hy het my oorspoel met die mooiste liefde en energie en ek het dit dadelik herken – want die vrou by die radiostasie het dit aan my gewys. Dis hoe ek die liefde van Christus herken het.”

Swiegelaar sê diegene wat geestelike oorlogvoering verklaar of oordeel, lewe nie volgens Christus se liefde nie. “Die liefde van Christus is onvoorwaardelik.”

Volgens Swiegelaar het hy lank geglo dat hy nie God se genade waardig is nie, onder meer omdat hy gay is en ʼn spirituele geneser is.

“Laat ek vandag vir julle iets vertel: Die koninkryk van God is nie ʼn geslote gemeenskap nie. Die koninkryk is oop vir almal. Dit word genade genoem, mense.”

Swiegelaar sê God is oral en Hy kan Hom enige plek openbaar – en dat mense kan kies om God se genade te aanvaar. “Hierdie was my geleentheid en ek het dit aangegryp. Ek het die keuse gemaak. Ek het lig gekies. Ek lewe vir die lig.”

Hy pleit by mense om liefde te betoon wanneer die kans daar is. “As jy die geleentheid het om lief te hê, is daardie liefde nooit verlore nie.”

Swiegelaar sê hy gaan voortaan fokus op die genesing van mense.

“Ek wil mense net liefhê.”

Hy sê hy het die afgelope ruk honderde versoeke vir onderhoude gekry en is onder meer gepols oor sy talle tatoeëermerke en lyfgaatjies. “As jy nou nog fokus op tatoeëermerke en gaatjies en dinge soos daardie… daar’s veel belangriker dinge as mense se tatoeëermerke.”

Hy gaan nietemin sommige van sy tatoeëermerke laat verwyder.

Swiegelaar sê hy is, sedert hy die kerk verlaat het, ook heelwat uitgevra oor hoëprofiellede van die satanistiese kerk. Hy het egter ʼn vertroulikheidsooreenkoms met die kerk aangegaan en respekteer selfs daarsonder mense se privaatheid en gaan dus nie kommentaar lewer nie.

Hy sê hy meen die kerk, waarvan hy lank die openbare beeld was, sal bly voortbestaan en is in hierdie stadium reeds enorm.

“Al wat ons kan doen, is om liefde te bewys. Ons kan nie mense dwing om te kies nie; ons kan net opdaag en verteenwoordigend van onvoorwaardelike liefde wees.”

Swiegelaar het in hierdie stadium geen voorneme om by enige kerk aan te sluit nie. “Ek sal nie daarheen gaan nie, omdat ek bitter seergemaak is daardeur.

“God praat op soveel verskillende maniere met ons, maar dit is ons keuse of ons dit wil voel of nie. Daar is nie veroordeling nie, daar is nie oordeel nie. Dit is perfekte liefde en dit is genade en dit is vir almal beskikbaar.”

Kyk hier na die volledige video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Madeleine ·

Amen
Ons almal werk ons eie Heil uit elke dag
Dis n event maar ook n proses van bekering

Frank ·

Lees ook 2 Konings 21 oor koning Manasse wat sy kinders geoffer het ens ens ens. Hy het as ‘n bekeerde gesterf.

Nettie ·

Miskien is ek en jy maar net te sinies, maar iets aan hierdie artikel klop ook nie vir my nie.

Korrelkop ·

Ja Mnr Swiegelaar, en wat nou van al die mense wat jy op die verkeerde pad leer loop het?? Is dit nou maar hulle saak om weer op die regte pad te kom?

Janice ·

Ons het almal keuses in die lewe en moet die pad loop van ons keuses. Bid vir Riaan Swiegelaar, want dit is wat hy nou nodig het en bid vir elke persoon wat God afgeskryf het, laat hulle gebroke harte weer heel kan kom. Dit is wat hulle nodig het.

Van ·

Alhowel dit alles goed en wel is, as jy die ou se storie volg, het hy n nuwe gier elke paar jaar. Ek dink hy moet eers werklik besluit watter rigting sy lewe wil gaan en gaan sy kop regkry. Hy was 20 jaar gelede in die kerk en het tog sekerlik toe al die Here iewers langs die pad gekry? Om relevant of interresant te wees hoef nie altyd met so n skokgolf gepaart te gaan nie. Maar, ek is bly vir hom. Ons kyk maar hoe lank dit hou!

Delene ·

Prys die Heer Riaan het by Jesus uitgekom! Ken ook iemand wat vermoedelik hoog op is in die Satanistiese Kerk. Sy hele lewe spreek van gebrokenheid, en hy put genot daaruit om ander te na te kom! Mag hy ook tot bekering kom voordat dit te laat is.

Voilet ·

Ons sal die vrugte wel sien van jou dade of dit waar is of nie

Rayman ·

As jy eers God verraai het deur satan te kies is daar nie omdraai nie, anders moet God ook die vervalle engele vergewe en hy sal nie, dan gaan God terug op sy eie woord.
as jy satan gekies het is daar nie terug draai nie

Andries ·

Jakkals prys sy eie stert, en al verloor ‘n luiperd sy kolle , bly hy ‘n luiperd. Baie mense bekeer hulself maar maak nie so ophef daarvan nie………

Roek ·

Ek dink hy soek aandag , moontlik iets met hom verkeerd n nou word die spaar wiel uitgehaal !

madels ·

Dit is so wonderlik om hierdie te lees. Dankie Jesus, niks is vir U onmoontlik nie.

Pim die Skim ·

Net jammer dat sy bekering met n dwaalleer begin. Daar is nie so iets soos onvoorwaardelike liefde nie. Daar is verseker voorwaardes om die koninkryk in te gaan selfs na bekering.

Johan ·

Ek lees hierdie komentare en kom tot die besef hoekom vele mense nie na God draai nie. Watse lig sien hierdie mense om ‘n Christen te wil wees. Ek is bly vir die man. Mense moet die Bybel in sy geheel lees en nie net deeltjies wat gepas is vir hulle nie. Die verskil is om te kies om Jesus te volg. My God sal geen siel weg wys wat na hom toe kom nie maak nie saak wat jou verlede is nie. As Hy jou weg wys gaan Hy tog ook teen Sy woord. Ek is bereid om die man ‘n kans te gee of hy eg is of nie maak geen verskil aan my nie maar kan groot verskil in sy lewe maak en ander mense se lewe. Mag hierdie man siele wen vir ons Vader. Amen

Rayman ·

So jy sê as jy jou siel verkoop het aan satan , dan gaan God jou terug vat ek dink jy moet bietjie meer diepte in jou Bybel gaan lees, God gaan nie terug op sy Woord nie.
Nou hoekom is daar dan ñ hel??

Janice ·

Daar word groot partytjie in die Hemel gehou. Kyk vorentoe en weet jy is baie kosbaar.

Antie Sarie ·

Ek dog die bybel se niemand sal Jesus sien voor die wederkoms. Of is die karakter dalk n “Elia”

Antie Sarie ·

Paulus was dalk n kardinaal by Nicea. hehe. Mens moet seker maar kies wat jy as waar wil aanvaar. Want alles kan nie waar wees nie.

Antie Sarie ·

O ja. As Paulus bestaan het, was hy n arrogante, opperste leunaar

Jack ·

Op n meer pragmatiese vlak is dit nou sy roeping om die kerk van satan af te breek. Sy krag het hy gekry en moet hy dit gebruik anders is dit net lee woorde. Satanisme is soos dwelmverslawing en daarvan weg te stap moet jy die gebruik daarvan verwerp en meer belangrik aanval.

Venesa ·

Goeiedag Die hele boodskap van die evangelie is geskep om God se liefde vir ons, Johannes 3:16. Maar ons moet pasop, liefde sonder tug en tug sonder liefde is nie liefde nie. Extreme grace is gevaarlik, want as iemand se God se liefde is onvoorwaardelik dan is dit half waar want Jesus preek juis sondig nie meer nie Hy se nie sondig minder nie. En nee, ook inkorek oor die Hemel, dit eksklusief vir daardie wat bekeer en wegdraai vir sonde en hulle lewe were neerle en Christus volg. Hy se n Paar dinge wat baie bekommerend is, mag jy dan nou gay wees en nogsteeds Hemel toe gaan ? Mag jy spiritueele geneesheer wees ? En onvoorwaardwlik, joh gevaarlik want jy kan nie meer sondig nie. Toe Jesus die eerste keer preek toe verlaat 5000 hom, dink julle dit was n rustige preek ? Of toe hy die sweep self vleg om hulle in die tempel uit te slaan en tafels omgegooi ? Oh God is love, ja Hy is maar so ook Heilig en almagtig en kragtig geen een wat sondig is sal in Sy teenwoordigheid kan staan nie.

Mrs H ·

Klink soos botter om die mond smeer, te veel oortuig my ‘die’ storie is n grappie van naiewe Christinne maak. Hy gaan die satanistiese gewemel los en respekteer om aan te gaan….. gay wees is hy steeds… koning van leuens is weer besig met valshede. Vertrou dit nie, maar wens ek kon. Sou n baie mooi storie gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.