Mediese nalatigheid: Miljarde aan eise uitbetaal

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die departement van gesondheid het die afgelope vier jaar sowat R24 miljard aan mediese regseise betaal, weens voorvalle van mediese nalatigheid in staatshospitale. Die departement moes boonop ʼn bykomende R1,3 miljard aan regskoste vir hierdie sake opdok.

Die DA sê nou dié reusebedrag laat weer eens vrae laat ontstaan oor die bekostigbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-skema, waarvoor Ramaphosa skynbaar nog ʼn pen soek om as wet te onderteken.

Die departement het in reaksie op ʼn parlementêre vraag gesê hy het sedert Januarie 2020 R23,6 miljard aan mediese-regseise betaal. Dit is egter nie die totale bedrag nie, met die Wes-Kaap en die Oos-Kaap se syfers wat nog in berekening gebring moet word.

Die Oos-Kaap verifieer nog sy syfers, terwyl die Wes-Kaap se inligting nog deur die provinsiale departementshoof goedgekeur moet word.

Altesaam 3 522 eise weens mediese nalatigheid is sedert 2020 teen die departement ingestel.

Luidens die provinsiale data wat beskikbaar is, is KwaZulu-Natal verantwoordelik vir die grootste gedeelte van eise wat uitbetaal moes word weens mediese nalatigheid. Altesaam R8,7 miljard is uitbetaal weens 779 eise in dié provinsie, waarvan 94 suksesvol was. In die Vrystaat is R2,5 miljard weens 53 suksesvolle eise uitbetaal. Altesaam 651 eise is hier ingestel.

Limpopo het die meeste eise gehad (903), maar net 30 was suksesvol.

Wat regskoste betref, het Gauteng die meeste opgedok (R634 miljoen).

Volgens Michele Clarke, ʼn DA-LP wat die vraag aan die departement gestel het, hou die massiewe regseisuitbetalings nog ʼn groot rooi vlag vir die beplande NGV-skema. Sy sê sodra die NGV uitgerol word, sal hierdie eise, sowel as korrupsie binne die sektor, waarskynlik toeneem.

Sy sê ʼn rede vir toenemende gevalle van mediese nalatigheid is waarskynlik die tekort aan hulpbronne in staatshospitale, waar talle poste nie gevul word nie. Dié toestande, sê sy, kan waarskynlik vererger nadat die gesondheidsdepartement se begroting vanjaar gesny is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wondermaarnet ·

En waar kry die department die geld…. van die belastingbetalers af. Ons moet opdok vir lui- en slegtigheid.

Andre ·

…kan die afstuderende “dokters” ooit behoorlik lees in hierdie dae?

Aggie ·

Korreksie, dis nie die betrokke departement wat dit betaal nie, DIS DIE BELASTINGBETALER! Ek wens die rubriekskrywers wil dit insien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.