Mediese student vermoor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

’n 18-jarige verdagte het Maandag in die Chief Albert Luthuli-landdroshof in Mpumalanga op aanklag van moord verskyn nadat die liggaam van ’n mediese student verlede week in ’n rivier by Nhlazatshe in dié provinsie aangetref is. ’n 17-jarige verdagte is ook in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

Lede van die gemeenskap het die liggaam van Wiseman Mthunzi Zwane (26), ’n mediese student wat eersdaags sy kliniese opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat sou voltooi, op 6 Julie met steekwonde in ’n rivier aangetref en die polisie ontbied.

’n Ondersoek het die Elukwatini-polisie op 8 Julie na die verdagtes gelei wat by Nhlazatshe in hegtenis geneem is. Die minderjarige verdagte is tans onder polisiebewaking in die hospitaal nadat hy glo voor sy inhegtenisneming deur lede van die gemeenskap aangerand is.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê nog inhegtenisnemings kan moontlik volg namate die ondersoek verder ontvou.

Die 18-jarige verdagte sal op 19 Julie weer in die hof verskyn waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Die motief vir die moord is nog nie bekend gemaak nie.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, Mpumalanga se provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom en gesê sy hoop dat geregtigheid vir Zwane se geliefdes sal geskied.

“’n Jong lewe is gewelddadig deur misdadigers kortgeknip. Die nasie en die wêreld is beroof van ’n jong ster wat moontlik oplossings sou kon bied vir die gesondheidsuitdagings waardeur ons vandag in die gesig gestaar word.”

Verdere besonderhede oor die moord is nie bekend gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jessica ·

Die wreedheid is afskuwelik. Dit is n lewe, die feit dat dit n mediese student is maak dit nie erger nie. Die feit dat daar n moord gepleeg is op so n geweldadige manier is onaanvaarbaar en soos gewoonlik gaan die moordenaar/s net wegkom daarmee, want die uitvoer van wet en orde in Suid Afrika is “ non existent “

Prikkie ·

Bring die doodstraf terug.

As die moordenaar ‘n “reg op lewe het” soos onse Cyril altyd graag aanvoer as rede waarom die doodstraf nie terug gebring kan word nie, hou dan ook in gedagte, dat die vermoorde ook ‘n reg op lewe gehad het.

Frank ·

Ek was ook altyd vir die doodstraf, maar in die hierdie land met sy deesdae skeefgetrekte wetstoepassing en een-oogige howe, dink ek nie dis ‘n goeie plan nie.

Henry ·

Met al die moorde het dit tyd geword dat die doodstraf weer ingestel word.

Althes ·

Ek is bevrees ons regstelsel moet eers reggeruk word alvorens ons so iets moet wens

Althes ·

My innige simpatie aan sy familie in die rou tyd.
Die huidige gesondsheidsprobleme wat ons NOU in die gesig staar, is agv van ANC

Swerwer ·

Dit is nou wat die Kommunistiese Regering in hierdie land floreer. Solank daar nie ‘n ingryping van die Hoër Hand plaasvind nie, sal dit net daaglike erger gaan. Die jaloesie, afguns, gebrek aan Christelike opvoeding dui alles op die kommunis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.