Klasse sal volgende week by Medunsa hervat nadat die bestuur van die universiteit en studenteverteenwoordigers Donderdag ʼn ooreenkoms bereik het.
Die studente sal volgende week na die Ga-Rankuwa-kampus, noord van Pretoria, terugkeer, het Kgalema Mohuba, woordvoerder vir die universiteit, gesê. “Ons verwag dat alles Maandag na normaal sal terugkeer,” het Mohuba gesê. “Die polisie ondersoek nog steeds die voorvalle en bestudeer kringtelevisiebeeldmateriaal.”
Die partye het Donderdagmiddag ʼn skikking bereik voordat hulle in die hof sou verskyn.
Mohuba sê die ooreenkoms is bereik toe die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) hulle aan sekere voorwaardes onderwerp het. “Die president van die VSR het ingestem om ʼn dokument op te stel en te versprei waarin studente gemaan word om betogings te staak, nie meer die universiteit se eiendom te beskadig nie en nie meer ons personeellede te teister nie,” het hy bygevoeg.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het Donderdagoggend versoek dat die betoging gestaak sal word. Die universiteit moes Woensdag sy deure sluit en bestuur het studente beveel om die perseel te verlaat. Studente hou al twee weke lank betogings en eis dat sekere dosente afgedank moet word omdat hulle glo studente faal. Die studente is glo ook ontevrede omdat die kampus se naam na Sefako Makgatho verander is.
Die bestuur van die universiteit het gesê die besluit om die kampus te sluit was die gevolg van hardkoppige gedrag deur die VSR en studentegemeenskap.
Gaan die MRK hier ook betrokke raak? Dit wat die studente gedoen het (vandalisme en intimidasie) is baie baie erger as wat die twee onskuldige dames van UP KONSUIS gedoen het! Ek se konsuis want ek glo dit was onskuldige pret! Wat die studente gedoen het gaan ons as belasting betaler se sak raak! Sluit hulle toe!!!!