Meer as 2 000 operasies by Charlotte Maxeke-hospitaal gekanselleer

Die ongevalle-eenheid by die Charlotte Maxeke-hospitaal kort nadat dit in Mei 2022 oopgemaak het. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Altesame 2 218 operasies is sedert Januarie verlede jaar by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg gekanselleer óf na ander hospitale verwys.

Dié syfer is deur Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid in Gauteng, in ʼn geskrewe antwoord op vrae deur die DA in die Gautengse wetgewer bekendgemaak.

Redes wat die LUR vir die kansellerings of verwysings verskaf het, sluit in ʼn tekort aan beddens in die intensiewesorg- en hoësorgeenhede, lae mediese lugdruk, ʼn tekort aan toerusting en menslike hulpbronne, beurtkrag en ʼn tekort aan geld.

“Daar is ook pasiëntverwante faktore, soos die pasiënt se toestand, pasiënte wat nie vooraf gevas het soos hulle moes nie, ongeldige toestemmingsvorms, behandeling wat geweier is en pasiënte wat nie opgedaag het nie of gesterf het voordat die operasie gedoen kon word,” het Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid, gesê.

“Die LUR beweer dat slegs 1,3% van die kansellerings deur beter bestuur vermy kon word, maar ek twyfel of dit so laag is.

“Ek kry baie klagtes oor operasies wat gekanselleer word omdat daar geen beddens in die intensiewesorgeenheid is nie, omdat toerusting nie werk nie of daar nie skoon linne is nie.”

Bloom sê dit plaas baie spanning op pasiënte wanneer operasies om vermybare redes gekanselleer word. Dit vererger ook die agterstand van pasiënte wat reeds op operasies wag – in sommige gevalle al jare.

“Stel jou voor jy het al twee jaar lank ʼn heupprobleem, maar dan word jou operasie op die nippertjie gekanselleer.”

Volgens Nkomo-Ralehoko sluit regstellende maatreëls “bykomende opleiding, desentralisering en die versterking van voorsieningskettingbestuur” in om betroubare kliniese ondersteuning te verseker.

Bloom sê hy is egter teleurgesteld dat daar nie op die verkryging van meer beddens in die intensiewesorgeenheid gefokus word nie, aangesien dit juis die groot oorsaak is vir lang waglyste van veral ingewikkelde operasies.

“Meer moet gedoen word om te verseker dat operasies by hierdie hospitaal vlot en met minimale ontwrigtings verloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Bevolkingsaanwas te groot!! DIT is ons land se ondergang en die rede van al ons probleme in die land. Tekort aan Hospitale, skole, Kragsentrales, behuising asook werkloosheid is als agv die bevolking van groei met die spoed van lig! Verder word hulle verder aangespoor om meer kinders te kry om meer TOELAES te kan kry

Republikein in die Wes Kaap ·

Met NGV is dit ons almal se voorland binne vyf jaar.

mattk ·

Die ANC en sy kaders het GEEN benul van administratiewe bestuur nie. Die toestand van die land en alle ander staats instansies is ‘n duidelike bewys van hul onvermoeë om enige finansië betuur (behalwe korrupsie en eie gewin) toe te pas. Ons is ook die enigste land in die wêreld waar kondome gratis uitgedeel word en dan word jy finansieel vergoed vir elke baba wat jy in die lewe bring. En ja, die NVG gaan beslis nie die toestand laat verbeter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.