Meer as 3 000 ontvoerings in SA binne drie maande

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services Group (Foto verskaf)

Ontvoerings duur voort teen ʼn kommerwekkende koers in Suid-Afrika. Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services Group, wil die publiek waarsku om nie naïef te wees oor die profiel van slagoffers of die ontvoerders se motivering nie.

Bartmann onthul dat 3 641 sake van ontvoering in die eerste kwartaal van 2023/2024 (April tot Junie 2023) volgens SAPD-statistieke aangemeld is.

“Alhoewel daar ontvoerings in al nege provinsies was, het Gauteng die hoogste getal sake gehad, gevolg deur KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Die Noord-Kaap en die Vrystaat het die minste sake aangemeld.”

Gauteng se brandpunte is Vosloorus, Thembisa, Midrand, Protea en Orange Farm. In KwaZulu-Natal is die hoërisikogebiede vir ontvoerings Umlazi, Inanda, Durban-Sentraal, Pinetown en Ntuzuma.

Hy sê hierdie soort misdaad vereis ‘n hoogs gespesialiseerde benadering en word binne die Fidelity Services Group deur ʼn gespesialiseerde taakspan hanteer. “Ons het gespesialiseerde taktiese intervensie- en versterkingspanne om hierdie hoërisiko- kriminele optrede te bestuur. Hulle werk agter die skerms in dikwels gevaarlike omstandighede om te verseker dat kliënte en bates veilig gehou word,” sê Bartmann.

Hy sê as die meeste mense van ‘n ontvoering hoor, dink hulle dadelik aan ‘n besigheidspersoon met ‘n hoë netto waarde wat vir miljoene losgeld aangehou word. “Hoewel dit wel waar is, en SA het deur die jare sy deel van hierdie gevalle gehad, is die gewone man op straat ook ‘n maklike teiken,” sê Bartmann.

‘n Toenemend algemene tendens in onlangse tye is “vinnige ontvoerings” waar motoriste gekaap word en in hul eie voertuig of ‘n ander voertuig na ‘n kitsbank geneem word en gedwing word om kontant te onttrek. Hulle word dan ook van waardevolle items beroof voordat hulle by ‘n geïsoleerde plek gelaat word.

Mensehandel, veral die ontvoering van vroue en kinders, is ‘n deurdringende probleem in Suid-Afrika. “In werklikheid is dit meer algemeen in ‘stil voorstede’ as wat baie inwoners wil erken,” volgens Bartmann.

Hy verduidelik dat die “kliënte” in ontvoeringsake net so uiteenlopend is as die misdaad self – hulle kan enigiemand wees, van kriminele organisasies en politieke ekstremiste tot losgeldontvoerders en familielede wat in ‘n tipe dispuut betrokke is.

“Kriminele organisasies, soos dwelmkartels, terroriste-organisasies en kriminele bende, teiken mense uit wie hulle finansieel kan voordeel trek, of daar is ʼn politieke rede of die daad sal hulle help om beheer oor ʼn spesifieke gebied uit te oefen. Politieke ekstremiste kan regeringsamptenare, diplomate of buitelanders teiken om hul agendas vooruit te help of eise te maak.

“Ontvoering vir losgeld is eenvoudig kriminele wat na finansiële gewin op soek is deur welgestelde individue, besigheidsmense of toeriste te teiken wat beskou word as iemand wat ʼn aansienlike losgeld kan betaal. In sommige gevalle kan ouerskapsgeskille tot die ontvoering van ‘n kind lei en in seldsame gevalle kan ‘n individu met ‘n sielkundige afwyking betrokke raak by ontvoering om redes wat nie maklik verklaar kan word nie.”

Om te voorkom dat jy ‘n slagoffer van ontvoerders word, sê Bartmann dit is noodsaaklik om te alle tye waaksaam te wees oor jou persoonlike veiligheid. Meeste van dieselfde voorsorgmaatreëls wat jy in jou alledaagse lewe in Suid-Afrika sou neem, is van toepassing, net soos gesonde verstand. Hier is ses belangrike wenke:

  • Moet nie in die openbaar pronk met duur juweliersware en ander items nie.
  • Varieer jou roetines of verander jou reisroetes op gereelde tye.
  • Moet nie met vreemdelinge in gesprek tree nie.
  • Wees te alle tye bewus van jou omgewing, veral wanneer jy jou huis verlaat of terugkeer.
  • Beveilig jou huis, veral die buitegrense met elektriese heining, behoorlike beligting en kringtelevisie.
  • As jy bedreig word, probeer aandag trek.

Bartmann voeg by dat die motiewe agter ontvoerings veelvuldig kan wees en kan wissel afhangend van die spesifieke omstandighede en die streek waar die misdaad plaasvind. “Terwyl wetstoepassingsagentskappe en private sekuriteitskenners, soos Fidelity Services Group, werk om ontvoerings te hanteer en te voorkom, het elkeen van ons ‘n verantwoordelikheid vir ons eie persoonlike veiligheid deur hierdie motiewe te verstaan en toepaslike maatreëls te tref om hierdie kriminele aktiwiteit te bekamp. Waaksaamheid is die sleutel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Nou hoe dan nou? Dog SA is so ‘n fenominale hawe van veiligheid en ontwikkeling as mens so na die Nederlandse koning luister wat by RamaNocio kuier?

Loun ·

Omdat hy n vloot veiligheid het wat om die klok na hom omsien…… wie sal nie veilig voel nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.