Meer as halfmiljoen plante in vier jaar gestroop

Dwergvetplante van die genus Conophytum word kwaai gestroop. (Foto: Pieter van Wyk)

Die polisie het oor die afgelope vier jaar op ongeveer 12 000 gestroopte vetplante per maand beslag gelê.

Volgens CapeNature kom dit op 576 000 plante oor die tydperk van vier jaar neer. Die DA in die Wes-Kaap sê dié syfers dui daarop dat die stropery van plante nie net geringe misdade is nie, maar grootskaalse diefstal van Suid-Afrika se natuurlike erfenis.

Die stropery van plante, waaronder vetplante, het sedert 2018 skerp toegeneem, en die meeste van dié plante is vir die Asiatiese mark bestem. In die Vredendal-omgewing alleen is daar tans 48 sake wat met die onwettige stropery verband hou. Die meeste hiervan het betrekking op die stroping van plante, maar ook diere soos reptiele.

“Selfs meer tragies word kinders dikwels ingespan om dié plante te steel,” het Andricus van der Westhuizen, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, gesê.

Hy verwelkom egter die stappe wat deur CapeNature in samewerking met die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag gedoen word om te verseker dat stropers vasgetrek en vervolg word.

Van der Westhuizen sê die provinsiale staande komitee vir landbou, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het vandeesweek ʼn besoek aan die Knersvlakte Natuurreservaat afgelê waar CapeNature ʼn voorlegging oor die uniekheid en belangrikheid van hierdie plante gedoen het.

As deel van hul voorlegging het CapeNature ook uitgebrei oor hoe hulle die Wes-Kaapse biodiversiteit probeer beskerm.

“In een voorbeeld het CapeNature onlangs opleiding aan ʼn aantal aanklaers en landdroste verskaf oor hierdie probleemgebied, waaronder die opstel van ʼn standaardformaat vir die afneem van verklarings met betrekking tot plantstropery. Dít sal help om vervolging vir dié misdrywe te verhoog.”

Van der Westhuizen sê die DA in die Wes-Kaap is uiters bekommerd oor die toename in biodiversiteitsmisdaad oor die afgelope paar jaar, en doen ʼn beroep op gemeenskappe om enige verdagte aktiwiteite aan te meld.

“Dit is ʼn strafregtelike oortreding en ons doen ʼn beroep op enigiemand wat van sulke aktiwiteite bewus is om na vore te kom.

“Ek is egter bly om te sien dat CapeNature ʼn proaktiewe benadering volg om te probeer seker maak dat daar gevolge is vir diegene wat hulself aan die steel van ons natuurlike erfenis skuldig maak. Ek hoop ook dat hulle die nodige ondersteuning van die nasionale regering sal ontvang om hierdie misdaad uit te roei.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Phillip ·

Brand af breek af vernietig als stroop als plunder als tot niks meer oor is nie dan is daar niks meer oor om te plunder of te stroop nie

Delia ·

Sekere mense is soos SUUR ACID). daar waar hulle loop, groei daar nooit weer iets. Ek praat nou van stropers van die natuur. Hulle sal nie stop tot daar niks oorbly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.