Mees gesoekte-verdagte dood aangetref in selle

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die polisie in Letsitele buite Tzaneen in Limpopo ondersoek ʼn saak van moord ná ʼn 40-jarige verdagte dood aangetref is in ʼn tronksel.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Chikinyongo Madala Masinge is Dinsdagoggend omstreeks 04:50 in die selle aangetref waar hy baie ernstig beseer is.

“Die persone wat saam met hom in aanhouding was, het hom vermoedelik aangerand,” het Mojapelo gesê.

Toe paramedici by die toneel opgedaag het, het hulle hom dood verklaar.

“Die man was ʼn mees gesoekte verdagte op aanklagte van poging tot moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die misdade is in Nwamitwa en ander gebiede in die Letsitele-polisiëringsdistrik gepleeg. Hy is Dinsdagoggend ná sy inhegtenisneming omstreeks 01:45 na die aanhoudingselle by die Letsitele-polisiestasie gebring.”

Masinge is onder andere daarvan verdink dat hy ʼn vrou verkrag het wat hout gaan haal het. Haar hand is met ʼn skerp voorwerp afgekap. “Die voorval het lede van die gemeenskap tot geweld oorgehaal en hulle wou sien dat hy aangekeer word. Hy is uiteindelik in Burgersdorp buite Tzaneen aangekeer waar hy weggekruip het.”

Die polisie se ondersoek oor die man se moord duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Justitia se skaal het gekantel , en geen strepies pak toga draer gaan dit herstel nie . Vergeet dit .

Jakes ·

Die polisie en regering sal waarskynlik n ondersoek loods om vas te stel of persone in die apartheids era nie dalk verantwoordelik is vir die krimineel se dood nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.