Meeste voorleggings tot dusver teen verandering van Grondwet

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Met omtrent ‘n derde van die skriftelike voorleggings aan die parlement oor grondonteiening sonder vergoeding verwerk, is daar ‘n stewige meerderheid teen die verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding in die hand te werk.

Van die eerste 149 886 voorleggings wat verwerk is, het 89 327 aangedui dat die Grondwet nie verander moet word nie, en 60 327 het aangedui dat die Grondwet wel verander moet word. Die oorblywende 402 voorleggings se voorkeur is onseker.

Dit beteken 59,6% van die voorleggings is teen die verandering van die Grondwet, en 40,1% is ten gunste daarvan. Daar is nog 300 708 voorleggings wat geëvalueer moet word.

Die meeste voorleggings tot dusver (61 988) is uit Gauteng verwerk, gevolg deur die Wes-Kaap (32 192), KwaZulu-Natal (22 201), die Oos-Kaap (8 493), Mpumalanga (6 421), Limpopo (5 630), Noordwes (5 263), Vrystaat (5 216), die Noord-Kaap (1 707) en van buite Suid-Afrika (775).

Tot dusver is die meerderheid van die voorleggings in sewe van die nege provinsies teen die verandering van die Grondwet en in twee provinsies (Limpopo en KwaZulu-Natal) is die meeste van die voorleggings ten gunste van ‘n verandering aan die Grondwet.

– In die Oos-Kaap wil 5 012 voorleggings tot dusver nie die Grondwet verander nie teenoor 3 466 wat dit wel wil doen.
– In die Vrystaat is 2 867 voorleggings teen die verandering van die Grondwet gekant en 2 345 ten gunste daarvan.
– In Gauteng is 32 939 van die voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 28 818 daarvoor.
– In KwaZulu-Natal is 11 317 ten gunste van die verandering van die Grondwet en 10 853 daarteen.
– Uit Limpopo is 3 359 voorleggings ten gunste van die verandering van die Grondwet en 2 265 daarteen.
– Uit Mpumalanga is 3 278 voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 3 136 daarvoor.
– In Noordwes is 3 034 voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 2 224 daarvoor.
– Uit die Noord-Kaap is 1 030 voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 675 daarvoor.
– Uit die Wes-Kaap is 27 440 voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 4 656 daarvoor.
– Van buite Suid-Afrika is 609 voorleggings teen die verandering van die Grondwet en 161 daarvoor.

Die mees algemene argumente teen die verandering van die Grondwet verwys na die impak op buitelandse beleggings, versnelling van rommelstatus, werkverliese, en die bedreiging van voedselsekerheid. ‘n Ander belangrike argument is dat grond in staatsbesit eerste vir grondhervorming geoormerk kan word.

Diegene wat teen die verandering van die Grondwet gekant is, meen ook dis net ‘n populistiese verkiesingstaktiek, dat dit die banksektor sal sink, dat dit belastinginkomste sal verminder en dat dit onregverdig is teenoor boere.

Voorts word aangevoer mense se verblyfreg word ondermyn deur onteiening sonder vergoeding en dat groter duidelikheid van die einddoel met die verandering van die Grondwet moet bestaan alvorens die Grondwet verander word.

Diegene wat ten gunste van die verandering van die Grondwet is, meen dat huidige grondeienaars die grond onregverdig bekom het en dat dit ‘n groot rompslomp is om vas te stel wie se grond dit nou eintlik is, soos die Grondwet tans verlang. Diegene wat die Grondwet wil verander, meen dat die huidige model van grondhervorming misluk het en dus verander moet word. Hulle meen dat plaasarbeiders verblyfreg moet behou op grond waar hulle lankal woon en dat onwettige afsettings van grond moet stop.

Diesulkes voel voorts dat nasiebou en gelykheid deur die herstel van waardigheid moet plaasvind, asook dat kultuur herwin moet word deur die Grondwet te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Estelle ·

Deur wie word die data verwerk… wonder hoe akkuraat die verwerkte data werklik is.

Daniel ·

Interessant dat Wes-Kaap is verreweg teen die verandering aan grondwet. Dit wys jou, Wes-Kaap is enigste provinsie wat wil werk en die res van die land wil nie werk om iets te verdien nie. Hulle wil net alles vat soos stropers met stroopsuiker soetgoed wat hulle lekker vetkatte maak.

marco polo ·

Dit was nie n referendum waartydens stemme getel word en die meeste stemme wen nie, so die aantal voorleggings moet hoegenaamd geen rol speel nie. Dit is die inhoud wat belangrik is.

Hanna Hoekom ·

Die “massas” sal die uitslag bepaal! Maak nou nie saak wie wat kwyt raak nie. “Our people” sal die uitkoms bepaal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.