Meesterbrein agter beleggingslenter skuldig bevind

Patrick Stapleton. (Foto: Facebook/ Patrick Stapleton)

Die meesterbrein agter ʼn bedrieglike beleggingskema is Woensdag in die gespesialiseerde handelshof in Durban skuldig bevind op verskeie aanklagte van bedrog.

Dit nadat sy seun, wat ook by die bedrog betrokke was, teen hom getuig het.

Patrick Stapleton (65) is daarvan aangekla dat hy 145 voornemende beleggers uit meer as R11 miljoen bedrieg het. Beleggers is onder die indruk gebring dat hulle geld belê in die ontwikkeling van ʼn eiesoortige mynvoertuig en ʼn verf‑onderneming onderskeidelik.

Hulle het gevolglik groot bedrae geld in die Dynamic Group se bankrekening gedeponeer en is reuse‑bedrae in rente-uitbetalings beloof. Dié het egter nooit gerealiseer nie.

“Die Valke se ondersoek na die beleggingsgroep het in 2015 begin en daartoe gelei dat Stapleton saam met sy seun, Luke (42), en Patrick se vrou, Shannon Dicks, in 2017 in hegtenis geneem is,” het kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, gesê.

Al drie is borgtog van duisende rand toegestaan en het sedertdien verskeie kere in die hof verskyn.

“Luke is in April 2017 aan bedrog skuldig bevind nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het uiteindelik teen sy pa getuig. Dicks is egter vrygespreek.”

Patrick sal op 1 Augustus gevonnis word en sy borgtog word tot dan verleng.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Elkeen wat bedrog pleeg, glo dat hy daarmee gaan wegkom. Sluit hom vir baie lank toe!

Shakespeare ·

As so bsie Mnr Swart dit kan doen waai nou oor na laegraadse witmense wat hulle siel verkoop vir n pot lensie sop. SKREIENDE SKANDE VIR N WITMENS.

Hennie ·

Hele paar van sy soort wat nog oop en bloot lekker loop en bedrieg,

SjN ·

Geldgierige beleggers wat net nie wil leer nie, rooi ligte moet flikker as reuse opbrengste beloof word. Hoop die meesterbrein en sy trawante word swaar gestraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.