Meld slaggate in Pretoria só aan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n aanlyn platform, Tshwane se slaggat, van stapel gestuur waar inwoners van Pretoria die slaggate in hul woonbuurt, veral op hoofpaaie wat swaar verkeer dra, kan aanmeld.

Data van die slaggate wat op Tshwane se slaggat ingesamel word, sal dan verwerk en aan die Tshwane-metro deurgegee word. Op hierdie manier help AfriForum die metro om te identifiseer watter slaggate dringende aandag verg in die hoop dat dit spoedig herstel word.

As gevolg van die skade wat die afgelope paar weke se swaar reëns veroorsaak het, is die paaie in Pretoria in ’n bedenklike toestand. Daar is bykans nie ’n straat in die stad ontsien van reuse-slaggate nie wat ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en pendelaars inhou. Aangesien die Tshwane-metro omtrent nie kan byhou met die nodige herstelwerk en instandhouding wat benodig word om die paaie weer in ’n aanvaarbare toestand te kry nie, het AfriForum besluit om ondersteuning aan die Tshwane-metro te bied.

“Ons verstaan dat daar tans ’n krisis is met verspoelde paaie weens die onlangse hoë reënvalsyfer en dat al die paaie nie oornag herstel kan word nie,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum. “Dit is wel belangrik om besige roetes te identifiseer en daarvolgens die herstelwerk te prioritiseer. Ons sien hierdie dus as ’n geleentheid om die munisipale bestuur te ontmoet vir die prioritisering van daardie slaggate wat dringend herstel moet word.”

Cooks sê AfriForum versoek die Pretoria-gemeenskap om deel te neem aan hierdie inisiatief deur hulle te voorsien van die ligging van die slaggate wat hulle daagliks frustreer. “Daarna sal ons ’n vergadering met die Tshwane-metro belê en hulle vereis om die spesifieke paaie te prioritiseer.”

AfriForum het verskeie takke reg oor die Tshwane-metro wat gereeld self slaggate in hul omgewings herstel asook ander selfdoen-projekte suksesvol aanpak. Raak by jou naaste AfriForum-tak betrokke om AfriForum se hande sterk te maak om aan te hou met selfdoen-projekte wat tot voordeel van die gemeenskap in geheel strek, voeg Cooks by.

Klik hier om slaggate in Tshwane te rapporteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Pretoria is van groot belang. Dis nou die kulturele kanton waarin die meeste Afrikaners woon en wat dus dien as kultuurtuiste.

Truman Burbank ·

Wat van meld die hele Centurion en Pretoria Oos aan? Garsfontein weg laat al meer as tien jaar mense bestuur soos dronkies soos hul probeer om slaggate te vermy. Of is hierdie net n sensus?

Nie Verbaas ·

Nee, die DA is net nog n ANC in wording. Praat baie maar niks gebeur nie.

Jacques ·

Die heel grootste probleem met die slaggate is die uiters swak vakmanskap. As die vorige slaggat herstelwerk behoorlik gedoen was, sou daar nou aansienlik minder gate gewees het om te herstel. Ek sien hier in Garsfontein dat slaggate weer oop is ‘n week na herstel, dan reën dit nie eers nie. Die ander rede is dat hulle nie die sand en klippe wat uit die gat gekom het opvee en verwyder nie. Besef hulle nie wat se enorme wrywing die op die alreeds dun teer laag maak nie? Dis daardie selfde wrywing wat ‘n motor se sagte rubber bande uitslyt. Hoeveel te meer sal los, harde klippies die teer verweer. Die gate word ook so swak herstel dat mens ‘n “Bigfoot” 4×4 nodig het om oor die goed te ry, motors met lae profiel bande kry swaar. Wat ‘n hopelose spul. Ons sal waardeer as Afriforum bietjie sal kyk na bg. punte ook – mens kan nie elke week dieselfde slaggat regmaak nie.

Samuel ·

Herstel slegs die slaggate in die rykmansbuurrte dan is alles mos reg.

Truman Burbank ·

Toe nie. Die pad deur Irene lyk of mens hom met n ossewa moet aandurf. Woodlands, Woodhill ens is vol slaggate.

Wakkerslaper ·

Julle mors julle tyd hoor…. los net so man. Teerpaaie is ‘n konsep uit die Westerse beskawing. Slaggate en verspoelde grondpaaie pas baie beter by ons Afrika hool land en hoofstad. Hoe sê hulle? “Tshwane – Igniting Excellence”….

Eclectus ·

WEES GEWAARSKU! Om slaggate op Afriforum se blad aan te meld, móét jy toestemming verleen dat jou persoonlike inligting geberg en benut mag word. Dankie maar nee dankie. Dan sal ek maar soos in die verlede dit direk aanmeld by [email protected]. Elke keer wat ek aangemeld het was gate binne ‘n paar dae herstel.

Kobus ·

Ek het al per e-pos rapporteer. Niks gebeur totdat ek die wyksraadslid van die DA ook ge CC het.
Dan wil hulle tot die paal nommer hê…..hoe dink hulle mens kan paalnommers soek terwyl jy ry? My vraag is ook, die raadslede vir wie ons stem, is dit nie hulle plig om so eenmaal ‘n week of twee net deur hulle kiesafdeling te ry en notas te maak van dit wat stukkend / buite werking is en dit te rapporteer nie? Die verkeerslig naby die Gautreinstasie is nou al maande buite werking. Dit ook al gerapproteer sonder sukses. Ek is seker munisipale amptenare ry ook op paaie wat besaai is met slaggate. Vraag is of hulle dit rapporteer want die norm in SA is mos ” dis nie my job nie” of “it’s not in my job description”

Witbaard ·

Hulle ry net rond voor die verkiesing, daarna werk hulle 8 tot 4 vir ‘n salaris, tensy iemand hulle direk bewus maak van ‘n situasie.

Jaco ·

Slaggate en sinkgate waaraan niks gedoen word nie, metropolisie wat mense intimideer en besyee, en en en. Die een probleem en verval na die ander. En dan is die Tshwane Metro dan nogal onder beheer van die “hoogheilige” DA met hulle “skoon regering” en “the DA delivers”. So hoe dan nou?

Erika ·

Oral is paaie net vol “potholes” wat gevul word met grond, en na die eerste paar druppels geval het, is grond weg gespoel, en gat groter en dieper.

Kan ons nie eerder paaie sonder potholes aanmeld, gaan dit nie makliker wees nie, aangesien alle paaie oral een of meer potholes in het?

Truman Burbank ·

Ek het al gesien hoe die pothole trokkies zig zag deur die potholes. En n week daarna is nog niks gedoen. Die weerligstrale weet waar die potholes is. Maar hul WIL NIKS doen nie

Nie Verbaas ·

Ek het twee wit jongelinge gesien op n pad net anderkant Brits wat dit nog op die pre 1994 wyse gedoen het en dit was n jaar later toe ek weer daar verby is en die herstelwerk was nog 100%.

Riaan ·

Deur hierdie vorm in te vul stem ek daartoe in dat AfriForum my data mag verwerk, stoor en gebruik. Hierdie is niks meer as ‘n ledetal werf oefening nie – Jy kan binne die volgende week ‘n oproep verwag van Afriforum waar hulle gaan probeer om jou op te teken as ‘n lidmaat.

Vernon ·

In die goeie dae was als gedoen deur trotse werkers,dit was NOOIT nodig om iets aan te meld nie. Nou moet jy waterlekke.straatligte,verkeersligte en slaggate aanmeld. Solank die DA in beheer is en die werkers is ANC sal niks gebeur soos dit moet nie.

Eugene ·

Stuur die boodskap aan: ” minister van slaggate”. Maak asb ons paaie reg.

LANA is ELANè ·

Ek verstaan dat mense moue oprol en betrokke raak met sefdoen projekte – maar deur dit bemagtig ons net die munsipaliteit verder tot niksdoen mentaliteit waarin hulle verval het nie.
Kan mens nie die koste verhaal uit al die belastinggelde wat maandeliks oorbetaal word aan die munsipaliteite nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.