Metrobeampte vas oor omkoopgeld

Argieffoto

Argieffoto

‘n Johannesburgse metropolisiebeampte is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy glo omkoopgeld van ‘n vroulike motoris geëis het nadat hy haar in Fourways, noord van Johannesburg, van die pad af getrek het.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, sê die beampte het die vrou omstreeks 3:00 Saterdagoggend voorgekeer en vasgestel dat sy onder die invloed van alkohol was.

“Hy het vir haar instruksie gegee om kontant by ‘n OTM te onttrek. Sy het R90 getrek en toe by die Douglasdale-polisiestasie gaan kla. Beamptes van die polisiestasie het die kontant afgeneem en op ‘n afstand gekyk hoe sy dit aan die beampte oorhandig.”

Minnaar sê die 43-jarige beampte is onmiddellik in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Maandag in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie.

Die metropolisie het ook ‘n interne ondersoek van stapel gestuur.

Minnaar sê motoriste moet die metropolisie se blitslyn skakel indien beamptes omkoopgeld van hulle eis wanneer hulle van die pad afgetrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.