Metropolisielid, twee ander vas wat trok glo wou steel

(Foto: Verskaf)

Die Middelburgse blitspatrollie het ’n konstabel verbonde aan die Tshwane-metropolisie en twee medepligtiges in hul spore gestuit toe hulle ’n vragmotor wou kaap wat voorraad vervoer het.

Die konstabel en sy twee makkers, onderskeidelik 33 en 34 jaar oud, is Donderdag omstreeks 14:00 in hegtenis geneem op die N4-hoofweg naby Phola, in Ogies, tussen die Petro Port- en Arbor-afrit.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die blitspatrolliebeamptes ’n verdagte wit Toyota Corolla met
’n Gautengse nommerplaat opgemerk. Die motor was in ’n strategiese posisie langs die pad geparkeer.

“Die lede van die blitspatrollie het die motor genader om ondersoek in te stel. Dit is toe dat ’n manspersoon geklee in ’n Tshwane-metropolisie-uniform, gewapen met ’n vuurwapen, uit die voertuig klim,” sê Mohlala.

“Die man het homself as ’n konstabel van die Tshwane-metropolisie voorgestel. Die beamptes het die twee ander insittendes gevra om ook uit die motor te klim. Dit is toe dat die bestuurder, in gewone drag, maar ook met ’n handwapen gewapen, uit die motor geklim het. Hy kon nie die vuurwapenlisensie of die permit om ’n vuurwapen te
besit, toon nie.”

’n Derde insittende het uit die motor geklim en was ook in ’n Tshwane-metropolisie-uniform geklee. Hy was ook gewapen.

“Toe die beamptes hom vra of hy ook ’n lid van die Tshwane-metropolisie is, het hy ontken dat hy die uniform by sy makker geleen het.”

By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die voertuig wat hulle gebruik het glo in Daveyton gekaap is. Die polisie het verder ook seinsteurtoestelle in hul besit gevind.

Toe die polisie die verdagtes ondervra het, is vasgestel dat daar nog ’n motor in die omgewing was wat weggejaag het toe hulle besef het dat hul spanlede in die sop was. Daar is hul motief – dat hulle die vragmotor wou kaap – blootgelê.

Die drie is in hegtenis geneem en aangekla vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, die besit van seinsteurtoestelle, die besit van ’n gesteelde voertuig en die nabootsing van ’n polisiebeampte.

Hulle sal na verwagting vandag in die eMalahleni-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die inhegtenisneming verwelkom en polisiebeamptes vermaan om hulle nie aan kriminele aktiwiteite skuldig te maak nie.

“Dit is regtig frustrerend wanneer sommige van ons beamptes, diegene is wat teen ons werk. Dit is regtig onaanvaarbaar dat ’n metropolisielid sy munisipaliteit se jurisdiksie kan verlaat, die provinsiale grens oorsteek om misdaad in Mpumalanga te pleeg,” het Daphney gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Stad Tshwane moet AL sy metropolisie afdand en kwalkiteit mense aanstel. Die eenheid is nog ANC verrot

JohanR ·

….and these are the ones who are supposed to protect and serve the South African public!

Realis Thailand ·

Die movie “You must be joking” is seker maar van toepassing op jou kommentaar
Ek weet dit is tong in die kies geskryf deur jou

Watsenaam ·

“Dit is regtig frustrerend wanneer sommige van ons beamptes, diegene is wat teen ons werk. Dit is regtig onaanvaarbaar dat ’n metropolisielid sy munisipaliteit se jurisdiksie kan verlaat, die provinsiale grens oorsteek om misdaad in Mpumalanga te pleeg,” het Daphney gesê.
Geagte Lt.genl. Semakaleng Daphney, Hoekom is jy verbaas? Het jy nog nie geleer of gehoor watse paniek en angs jou “comrades “hier in Gautengeleng pleeg nie. Nee man ek is jammer, ek stem nie met jou saam nie.

H.A. ·

Al die misdadigers sluit by met metropolisie aan, want die deur word vir hulle oopgehou deur die kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.