Minder as helfte van jonges gaan stem – opname

Foto ter illustrasie van die verkiesing. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

Minder as die helfte van Suid-Afrika se jong kiesers sal waarskynlik op 29 Mei stem. ’n Nuwe studie skryf dié verwagte powere opkoms toe aan korrupsie, hoë werkloosheid en geslagsgebaseerde geweld.

Sowat 49% van 18- tot 24-jariges sê dat hulle waarskynlik later hierdie maand sal stem, terwyl 16% eindelik nie hul kruisie sal trek nie. Sowat 35% het nog nie besluit nie, toon ’n nuwe opname deur die Ichikowitz-familiestigting.

Die stigting het meer as 1 000 onderhoude met 18- tot 24-jariges oor die hele land gevoer. Driekwart van dié respondente het gesê hulle glo Suid-Afrika beweeg in die verkeerde rigting.

Sowat 48% van dié jong mense sou graag die land wou verlaat; 85% het gesê hulle is “baie bekommerd” oor korrupsie.

Slegs 40% van die jong mense glo dat die regering in die afgelope 30 jaar “suksesvol was om ’n nierassige samelewing te skep en rasse-ongelykheid aan te raak”, terwyl 49% glo dat die regering onsuksesvol was om apartheid te beëindig.

Foto ter illustrasie van die verkiesing. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

’n Ingenome Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het in Maart aangekondig dat jonges vanjaar se kieslys oorheers.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK, het toe gesê die hoogtepunt van die gesertifiseerde kiesersrol is die getal jong mense wat aan vanjaar se verkiesing gaan deelneem.

Die ouderdomsgroep 18 tot 39 is vanjaar verantwoordelik vir 42% (11,7 miljoen) van geregistreerde kiesers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cherokee ·

49% glo dat apartheid steeds bestaan. Die opvolgvraag moes gewees het, wat apartheid is. Watter apartheid steeds bestaan.

Bolandse Nooi ·

Kindertjies wat pas 18 geraak het of voor 29/05/2024 18 sal raak, is eers in 2006 gebore. HULLE HET NIE ‘n “CLUE” WAT APARTHEID WAS NIE en weet nét dit wat Ma/Pa, Ouma/Oupa of die geskiedenisboeke hulle geleer het. As hulle enigsins ‘n BIETJIE verstand het, sal hulle weet dat hulle juis MOET gaan stem sodat hier werklik VERANDERING in hierdie land kan kom.

Delia ·

Ek is moeg vir die jongmense wat nie verantwoordelikheid vir hulleself wil aanvaar nie. Klim van sosiale media af, los jou foon en hou op tik tok videos kyk. Daardie goed vat jou weg van.die realiteit. Dit gee jou net kyke in ander mense se lewens.
Hou op om te verwag dat ander mense jou omstandighede moet verander. Wees jy die verandering wat jy in die lewe wil sien.

Marous ·

Hulle kan , sal , en wil nie bydra om die land se totale verval op te bou nie.

Fritz ·

Kan jy die jeug kwalik neem? Elke liewe ou (hoofsaaklik die party leiers) wat deesdae op n verhoog klim om n toespraak te lewer, lyk soos iemand wat uit n ouetehuis ontsnap het. Kry so nou en dan n jonger persoon om n toespraak te lewer, en die jeug mag dalk luister.

Anje ·

Ek hoor baie mense se dat n stem teen die ANC n stem vir n terugkeer na apartheid sal wees. Daarom bly hul net eerder weg van die stembus. Dit is nou regtig nie logiese denke nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.