Minder hande, meer masjiene, maar soektog duur voort

Die soektog na oorlewendes duur steeds voort. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Deur Eugene Gunning

Die soektog na oorlewendes duur voort.

Dít was vanoggend (Donderdag) die versekering van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, op die ramptoneel in Victoriastraat in George, waar ʼn gebou Maandag ineengestort het.

Dit kom teen die agtergrond van vrae oor hoe lank die soektog na oorlewendes gaan voortduur. Internasionaal is die gebruik dat dit afgeskaal word ná 72 uur. Teen Donderdag net ná 14:00 sal die 72 uur-merk verbygesteek word.

Reddingswerk gaan voort en swaar masjiene was vroeg vanoggend op die toneel om bourommel te verwyder.

Vrywilligers gee verversings aan nooddiens- en reddingswerkers. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Benewens die reddingswerkers het ʼn groot groep vrywilligers ook die afgelope paar dae kom hand bysit. Hulle het onder meer verversings aan reddingswerkers en nooddienspersoneel verskaf.

Benewens Bredell was Leon van Wyk, burgemeester van George, en dr. Michelle Gratz, munisipale bestuurder van George, ook weer op die toneel. Dr. Imtiaz Sooliman van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers, was ook in ʼn stadium op die toneel.

Die dodetal het intussen tot agt gestyg en die getal mense wat ten tyde van die voorval op die bouperseel was, is as 81 aangepas. Altesame 16 mense is steeds in ʼn bedenklike toestand.

Bredell het die afgelope 24 uur as ʼn uitdagende tydperk bestempel.

In een nag is 11 slagoffers lewend gevind. Toe daar later egter nie meer kommunikasie bewerkstellig kon word met enige van die vasgekeerdes nie, moes die strategie aangepas word. Die plan is om nou van bo na onder deur die bourommel te werk. Die groot betonstukke moet verwyder word en daar is ʼn gesukkel met een van die stukke.

Groot masjiene word in die soektog gebruik. (Foto Eugene Gunning/Maroela Media)

Groter masjiene is nou van Kaapstad laat kom om met die proses te help. Snuffelhonde word steeds ingespan om te help.

Bredell sê die soektog duur voort, selfs al word die 72 uur-merk bereik. Wêreldwyd is mense al onder soortgelyke omstandighede ná 72 uur lewend gevind.

“Ons bly vol hoop. Ons bid en hoop vir ʼn wonderwerk.”

Die proses wat nou gevolg gaan word, is minder hande en meer masjinerie op die toneel. Bredell het benadruk geen besluit is egter nog geneem nie oor wanneer die soektog na oorlewendes amptelik gestaak gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Mens hoor gereeld van geboue wat ineenstort bo in afrika.Wat was die rede dit maak n mens nogal beangs om in enige nuwe gebou in te stap.

Vanessa ·

Ons gebede gaan uit na die mense en hul families. Dit moet erg wees om so vasgevang te wees. Ek kan my nie eers indink wat deur die mense se gedagtes gaan in sulke omstandighede nie.

Nettie ·

‘n Regering is ‘n voorstelling van ‘n nasie. As ons regering so korrup is, hoe kan ons verwag die nasie is nie?

Dit maak mens regtig bekommerd om te sien hoe als uitmekaar val, nou ook letterlik. Ons lewens is in korrupte mense se hande en daar’s niks wat ons kan doen, anders as om te bid dat God ons sal beskerm nie.

Mag Hy die families van die ramp vertroos, en ons bid dat nog lewend gevind sal word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.