Minderjarige in hof vir moord op vierjarige

Argieffoto.

ʼn 16-jarige het Dinsdag in die Bloemhof-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hy glo ʼn vierjarige meisie vermoor het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die vierjarige is Sondagmiddag as vermis aangemeld.

“Volgens die inligting wat in daardie stadium aan die polisie beskikbaar was, was die vierjarige die vorige aand vir die laaste keer saam met ʼn man langs die N12 digby die Boitumelong-nedersetting gesien. Dit volg nadat sy vermis geraak het terwyl sy saam met ander kinders buite haar ouers se erf gespeel het,” vertel Mokgwabone.

Die plaaslike pastoor het die 16-jarige Maandag aan die polisie oorhandig nadat hy hom glo in sy vertroue geneem en vertel het dat hy die meisie doodgemaak en haar liggaam in die bosse by Boitumelong gelos het. Hy is daarna in hegtenis geneem.

Die minderjarige sal na verwagting weer op 14 Oktober in die hof verskyn. Hy sal tot dan in aanhouding bly.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lollapot ·

16 is ‘n kind! Liewe ouers. . . waar kom hulle aan al die boosheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.