Ministers se huise: R1,4 miljoen vir nuwe kombuis, kragopwekkers kos nóg miljoene

Sihle Zikalala, minister van openbare werke. (Argieffoto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Die opknapping van ʼn kombuis teen ʼn allemintige R1,4 miljoen, beroking teen R240 000 om van kokkerotte ontslae te raak en R54 000 om ʼn gordynreling te vervang.

Dít is net sommige van die uitgawes wat tussen 2019 en verlede jaar aangegaan is om ministeriële wonings in Pretoria en Kaapstad op te knap en in stand te hou.

Sihle Zikalala, minister van openbare werke en infrastruktuur, het dié syfers bekend gemaak in antwoord op ʼn parlementêre vraag van Leon Schreiber, ʼn DA-LP en die party se woordvoerder oor openbare werke.

Luidens die departement se syfers beloop die volmaak en herstel of diens van kragopwekkers by dié wonings sowat R50 miljoen.

By ʼn huis in Waterkloofrif in Pretoria is meer as R404 000 betaal om ʼn rugsteun-kragopwekker te vervang. By ʼn ministeriële woning in Moreletapark is selfs meer opgedok – byna R455 000 – om ʼn kragopwekker te installeer.

Die herstel van elektriese heinings om ministers, hul adjunkte en direkteurs-generaal se veiligheid te verseker, kos Suid-Afrikaanse belastingbetalers ook ʼn reusebedrag geld.

Herstelwerk aan ʼn elektriese heining van ʼn huis in Atholhurst in Johannesburg het meer as R41 000 beloop; die herstel van ʼn kamera by ʼn huis in Waterkloofrif het R16 000 gekos; by ʼn huis in Waterkloofrif is meer as R92 000 betaal vir werk wat net as “herstelwerk” aangedui word, terwyl die herstel van lugversorgers – ʼn item waarvoor ook gereeld opgedok moet word – by dié ministeriële wonings nóg derduisende rande beloop.

By ʼn huis in Johann Rissikrylaan in Waterkloofrif in Pretoria is byna R53 000 betaal omdat ʼn kamera- en interkomstelsel nie gewerk het nie en nog sowat R8 700 om brandblussers by die huis na te gaan; by ʼn huis in Clarkstraat in Waterkloof is meer as R191 000 betaal omdat ʼn kamera ook daar nie gewerk het nie, terwyl die “nagaan van kameras waarmee gepeuter is” by ʼn huis in Herbert Bakerstraat in Groenkloof in Pretoria belastingbetalers amper R113 000 gekos het.

Zikalala het nou opdrag gegee dat ʼn ondersoek na alle tenderpraktyke oor die opknapping van wonings wat openbare ampsdraers bewoon, gedoen moet word.

“Pres. Cyril Ramaphosa het ons as ministers opdrag gegee om onder geen omstandighede verkwistende of enige buitensporige, onbillike of moontlik korrupte praktyke te duld nie,” sê die minister.

Zikalala sê daar moet ondersoek ingestel word omdat daar onder mense die opvatting bestaan dat openbare ampsdraers hierdie uitgawes goedgekeur het.

“Ons het ʼn plig om met ons voorbeeld te lei en die regte aanslag te neem wanneer openbare geld bestee word.

“Ons weet dat almal weens stygende lewenskoste finansiële druk ondervind en daarom moet ons verseker dat belastinggeld verstandig bestee word,” sê Zikalala.

Daar sal nou ondersoek ingestel word na kostebepalingspraktyke wat verband hou met instandhoudingswerk en vergelykende kwotasies sal gedoen word.

“As regering is ons nie bereid om die onverdedigbare te verdedig nie. Ons gaan streng toesig hou om hierdie situasie, wat staatsamptenare onbillik diskrediteer, op te ruim.”

Die minister gee self toe dat die koste verbonde aan sommige van die items of werk dui op diensverskaffers wat kanse waag en die departement as ʼn “melkkoei” beskou.

“Ons moet enige opvatting of bewering van wangedrag wat verband hou met die instandhouding van staatseiendom in die kiem smoor. Ongelukkig lei hierdie optrede tot die versterking van pogings om regeringsleiers in ʼn slegte lig te stel. Vanjaar verwag ons dat dit gaan vererger en ook voertuie, kragopwekkers en personeel gaan insluit.”

Die minister sê sommige van die staatseiendomme is baie oud en vereis instandhoudingswerk, maar dat die koste daaraan verbonde nietemin billik moet wees.

“Diegene wat deur die burgery aangestel word om vir hulle te werk, moet die hulpbronne en behoorlike toerusting hê om dit te doen, maar dit moet op ʼn verstandiger wyse verskaf word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Papsak ·

Wat maak hulle nou so belangruk laat hulle so bly dit is n vermorsing van geld en dit op hulle

Minnie ·

En dan bedel instansies fondse by ons as belastingbetalers vir kos vir die straatkinders, armes en om skilpaaie te red. Ons het nie meer om te gee nie.
Die bedrae wat genoem word is onrealisties. Iemand steek baie geld in hul sakke…
Absolute waansin

Mercedes0 ·

Waarvoor het hulle kragopwekkers nodig as hulle nie beurtkrag kry nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.