MK vermoed gemene spel met Zuma-ongeluk

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

Die MK-party voer aan gemene spel was betrokke in die padongeluk Donderdagaand waarby voormalige president Jacob Zuma en sy lyfwagte betrokke was.

Hulle het van Nkandla na Eshowe in KwaZulu-Natal gereis as deel van die party se verkiesingsveldtog.

Musa Mkhize, hoof van die party se verkiesingsveldtog in KwaZulu-Natal, het Vrydag in ʼn onderhoud met SABC gesê die party is “baie geskok en baie bekommerd” oor dit wat gebeur het.

Dit is nie duidelik of Zuma en sy lyfwagte beseer is nie. Hy het slegs gesê Zuma en sy lyfwagte is medies ondersoek.

Volgens Mkhize word Zuma “in ʼn veilige ruimte” gehou. Hy wou nie verder uitwei oor Zuma se toestand of waar hy hom bevind nie.

“Dit wat gisteraand gebeur het, het ons ongelukkig verwag. Die president is gewaarsku dat hy voor stemdag in die hospitaal sal lê. Ons weet nie wat nog vir ons voorlê nie.”

Mkhize wou ook nie bekendmaak wie die MK-party verdink van die gemene spel nie.

“Wie dit ook al doen, hulle weet wie hulle is. Ek sê dit nie, hulle het dit publiek gesê. Hulle het dit op die openbare uitsaaier gesê. Mense, ons almal weet, wie dit is.”

Die kieshof het Dinsdag in ʼn sitting van die hooggeregshof in Johannesburg eenparig die ANC se aansoek om die MK-party se deelname aan die komende verkiesing te stuit, van die hand gewys. Dit volg nadat die ANC ʼn aansoek by die hof ingedien het om die uMkhonto we Siswe (MK)-party van oudpres. Jacob Zuma se registrasie onregmatig en nietig te laat verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.