‘Moeilike en maklike vrae’ in tweede rek-vraestel  

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Die tweede rekeningkundevraestel in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen was op standaard.

Dít is hoe matrikulante Vrydag se tweede vraestel aan Maroela Media beskryf het.

Anné Steenkamp van die Hoërskool Garsfontein meen die vraestel het ʼn goeie mengsel van moeilike en maklike vrae bevat.

“By vraag 3 en vraag 4 se teorie was daar ʼn paar vrae wat ʼn bietjie moeiliker was. Ek is verbaas dat hulle nie BTW gevra het nie aangesien dit die afgelope drie jaar gevra is.”

Anné meen daar was genoeg tyd om die vraestel te voltooi hoewel ʼn “ekstra 10 minute lekker sou wees” om alles weer deur te gaan.

Xander Labuschagne van die Hoërskool Kempton Park meen weer dit was ʼn redelik maklike vraestel.

“Daar was enkele klein vangplekkies wat ek glo baie sou uitvang, maar steeds ʼn regverdige vraestel en op standaard.”

Volgens Xander was die begrotingsafdeling vraag 3 nogal moeilik. “Ek moes die vrae ʼn paar keer deurlees om heeltemal te verstaan wat gevra word. Die vastebate-vraag was ook ʼn uitdaging en mens moes mooi kophou met watter bedrae jy by wat moes gebruik.”

Xander sê hy kon die vraestel gemaklik binne die gegewe tydsduur klaarmaak. “Ek het selfs nog so 10 minute oorgehad om ʼn paar berekeninge weer na te gaan, maar ʼn paar van my medeleerders het gesê hulle was effens gedruk om betyds klaar te maak.”

Xander meen die erge hitte waaronder verskeie provinsies tans gebuk gaan, het dit by tye moeilik gemaak om te fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.