Moeilike kinderjare stuit nie vir Natasha

Natasha Venter (Foto: Verskaf)

Natasha Venter van Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch se lewe was nie altyd maklik nie. Daarom was sy baie in haar skik toe sy matriek geslaag het, boonop met drie onderskeidings!

Natasha was vir ʼn groot deel van haar lewe in ʼn kinderhuis, voordat sy en een van haar susters in gr. 8 by pleegouers geplaas is. Sy hoop om vanjaar BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

“Ek was vir tien jaar in die kinderhuis. Dit was nie vir my juis lekker daar nie, maar toe ek hoor ek gaan weg aan die begin van gr. 8, was ek tog hartseer,” sê Natasha.

Sy het baie geleer en wil net die beste van haar lewe maak om vir die ander kinders te wys: Jy kan ʼn toekoms vir jouself bou.

Haar raad vir kinders in soortgelyke situasies is om hul waarde te besef. “Dan sal niks in jou pad kom staan nie. Weet dat God ʼn plan het vir jou.”

Natasha het ʼn broer (12) en ʼn suster (16) wat in ʼn kinderhuis in Johannesburg bly. “Dit maak dinge moeilik, want daar is ander dinge wat in jou gedagtes aangaan terwyl jy skoolwerk doen, en jy voel verantwoordelik vir hulle.” Nietemin sê Natasha dit motiveer haar ook om hard te werk.

Haar hoërskoolloopbaan was aanvanklik vir Natasha moeilik omdat sy niemand geken het nie. Maar hoe meer vriende sy gemaak het, hoe lekkerder het skool geraak. “Onderwysers wat my raaksien of na my uitreik moedig my aan om hard te werk. As hulle jou mooi behandel, wil jy graag harder in hulle klas werk,” sê Natasha. “Ek het nogal van al my vakke gehou,” vertel sy. “Maar Afrikaans staan vir my uit, veral omdat die onderwyser dit lekker en interessant aangebied het.”

Haar drome vir haarself is om eendag ʼn familie te hê, en ʼn werk in die politiek of in wetgewing te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.