‘Moenie noodfakkels onnodig skiet’ – NSRI

(Argieffoto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie fakkels af te vuur tensy hulle werklik in nood verkeer nie.

Woordvoerder Craig Lambinon het opgemerk die roekelose afvuur van fakkels mors reddingsvrywilligers se kosbare tyd omdat hulle dan begin soek na iemand wat nie in nood verkeer nie.

“Die Jeffreysbaai-bemanning is [Woensdag] om 21:43 na Kabeljous ontplooi waar ooggetuies twee noodfakkels oor die see gesien het. Ná ʼn uitgebreide soektog is vasgestel die fakkels is van die land gevuur en geen bote of mense was in gevaar nie,” het Lambinon gesê.

“Seeredding doen ʼn spesiale beroep op die publiek om nie fakkels af te vuur tensy daar ʼn noodgeval is nie. Om ʼn fakkel af te vuur omdat dit verval het, is gevaarlik en mors honderde ure van vrywilligers se tyd.”

Lambinon het gesê laserstrale word tydens soektogte ook op seereddingsvaartuie gerig wat die lewens van die soekgeselskap in gedrang bring.

“Laserstrale was in die verlede al ʼn groot gevaar vir bemannings wanneer dit direk op vliegtuie gerig word. Vir die eerste keer is laserstrale nou ook op reddingsbote gerig wat besig was met ʼn soektog. Dit ontwrig die soektog geweldig en stel die lewens van ons vrywilligers en diegene na wie hulle soek, in gevaar.

“Moet asseblief nooit laserstrale op enigeen rig nie en veral nie snags op operasionele reddingsdienste nie,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.