Mosambiekse oudminister sal aan tuisland uitgelewer word

Manuel Chang vroeër in die landdroshof in Kempton Park. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Maandag bevestig dat die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, aan sy tuisland uitgelewer gaan word.

Chang is gesoek in verband met beweerde bedrieglike lenings aan staatsmaatskappye in Mosambiek. Hy is in Desember 2018 by die Internasionale Lughawe OR Tambo in hegtenis geneem en op versoek van Amerikaanse owerhede aangehou wat hom aan die VSA uitgelewer wou hê.

Chang is ook in die VSA én Mosambiek gesoek vir beweerde sameswering om bedrog te pleeg en omdat hy glo miljoene dollars in omkoopgeld aanvaar het. Die beweerde oortredings hou verband met ʼn $2 miljard-leningskandaal wat ook twee internasionale banke betrek.

Die VSA én Mosambiek het hul eie uitleweringsbevele ingedien.

Die landdroshof in Kempton Park het in April 2019 beslis dat Chang aan Mosambiek en die VSA uitgelewer mag word. Michael Masutha, minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, het toe besluit dat Chang aan Mosambiek uitgelewer moes word. Interpol sou die proses vergemaklik.

Chang het die hof se besluit betwis omdat hy steeds as parlementslid immuniteit teen vervolging in Mosambiek geniet. Hy het ʼn aansoek teen Lamola by die hooggeregshof ingedien.

Die saak is op 16 en 17 Oktober 2019 voor ʼn volbank in die hooggeregshof aangehoor. Die hof het bevind die besluit om die beskuldigde aan Mosambiek uit te lewer was ongeldig aangesien die beskuldigde steeds immuniteit in Mosambiek geniet.

Die hof het verklaar dat dit sinloos sou wees om ʼn persoon aan ʼn plek uit te lewer waar hy nie vervolg kan word nie. As sodanig is die uitlewering eers opgeskort.

Na verneem word, wou die Mosambiekse regering appèl teen die uitspraak aanteken. Die regering het ná ʼn paar maande vertoë aan Lamola gerig. Dié vertoë deur die Mosambiekse owerhede het daartoe gelei dat die werklike feite veral ten opsigte van die kwessie van immuniteit teen vervolging verander het.

Soos die feite nou uitgelig word, is die beskuldigde nie immuun teen vervolging nie, asook behoorlik aangekla deur die Mosambiekse regering.

Ná oorweging van vertoë en nuwe feite word bevind dat die betrokke beskuldigde uitlewerbaar sal wees ingevolge artikel 10 (1) van die Wet op Uitlewering.

Die beskuldigde sal dus aan die Mosambiekse owerhede uitgelewer word om verhoor te word op die volgende aanklagte: misbruik van posisie en funksie, oortreding van begrotingswette, bedrog deur misleiding, verduistering, passiewe korrupsie, geldwassery en misdadige verbintenis.

Lees alle vorige berigte oor Manuel Chang op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Tipies weer n rugkrappery. Hy gaan nou seker die ambassadeur in sa word. So deursigtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.