Mosselbaai rou oor jong brandbestryder

Carlton Louw. (Foto: Facebook)

ʼn Jong brandbestryder het Vrydagaand in ʼn motorfietsongeluk op pad na George gesterf.

Die 25-jarige Carlton Louw was deel van Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdienste en het die afgelope agt jaar hier gewerk.

Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omtrent 19:30 by die Maalgate-rivierbrug naby George plaasgevind. Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.

“Ons gedagtes en gebede is met sy geliefdes en kollegas,” het Colin Puren, munisipale bestuurder van Mosselbaai, Saterdag gesê.

“Hy was ʼn toegewyde brandbestryder wat nooit teruggestaan het wanneer hy ʼn verpligting gehad het om lewens te red nie. Hy het die gemeenskap van Mosselbaai met trots gedien.”

Louw het reeds op skool die brandweerstasie gereeld oor naweke besoek en ná skool as vrywilliger daar gewerk. Hy is later as brandbestryder aangestel.

Medelye het ook op sosiale media ingestroom en selfs die burgemeester van Mosselbaai het Louw gesalueer.

“Carlton was geliefd onder sy kollegas en bekend as ʼn vriendelike en toegewyde spanmaat. Hy gaan ʼn groot leemte laat. Ons innige meegevoel aan al sy kollegas, vriende en familie. Mag sy siel in vrede rus,” het Dirk Kotze op Facebook geskryf.

Wyk 11 in Mosselbaai het ook geskryf dat Louw, bekend vir sy ywerigheid en onbaatsugtigheid, ʼn leemte in sy span laat.

“Ons dink ook aan Mosselbaai se brandbestryders wat hul verlies van ʼn spanmaat moet verwerk.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Sterkte aan die jongman se vriende, span en familie. Ek dink somtyds besef ons nie regtig die waarde van Brandbestryders nie, hulle is dapper mense. Ons kan nooit genoeg dankie sê vir hulle opofferings nie. RIV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.