Motorbedryf begin weer spiere bult

motorsleutels

(Argieffoto)

Verkope van nuwe motors het in Augustus weer begin kop optel ná die “perfekte storm” wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in Julie getref en ʼn enorme uitwerking op die motorbedryf gehad het.

In Augustus is daar 41 425 nuwe motors verkoop, 8 496 meer as in Julie. Toyota het die leiding geneem met 10 543 plaaslike verkoopseenhede, gevolg deur Volkswagen met 6 930 en Nissan met 3 332 eenhede. Nissan se goeie verkope is te danke aan die nuwe Magnite- en Navara-modelle.

Hyundai was in die vierde plek met 2 749, terwyl Suzuki ʼn rekordmaand beleef het met 2 470 eenhede. Ford moes met die sesde plek tevrede wees met 2 201 eenhede. Renault, Haval, Kia en Isuzu het die res van die toptien afgerond.

Die grootste uitvoerder is BMW met 5 300 eenhede, dán Volkswagen met 5 239 en derde Toyota met 5 170. Die laaste groot uitvoerder is Ford met 2 006 uitvoereenhede. Die topverkoper onder die ligte kommersiële voertuie is die Toyota Hilux met ʼn allemintige 3 335 eenhede, en die sterkste passasiersvoertuig was Volkswagen se Polo met 2 090.

ʼn Gedeelte van die groei kom van die huurmotormark af met ʼn sterk verkoopsyfer van 4 962. Dié bedryf is die afgelope 18 maande op sy knieë gedwing deur die Covid-19-pandemie. Dié prestasie is ook uiters verbasend indien die wispelturige rand en moeilike handelstoestande in ag geneem word.

Die onluste in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng, asook die wêreldwye tekort aan halfgeleier-mikroskyfies, die kuberaanval op Transnet se hawens én die herinstelling van die vlak 4‑inperking het die motorverkoopsyfers in Julie erg getref. Daar is verwag dat dit vir ʼn paar maande ʼn deurlopend negatiewe uitwerking sou hê.

“Ons het geweet dat ons ʼn verlies aan sake- en verbruikersvertroue moes hanteer, asook die uitdagings in aanbod, maar ons kon die afgelope maand steeds sterk herstel. Verkope het jaar tot jaar met 32,4% gestyg wat baie bemoedigend is,” het Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), gesê.

Volgens Dommisse is daar steeds vertragings wat voorkom weens die onluste en die ontwrigtings by hawens.

“Dan het ons ook nog ʼn wispelturige rand om te hanteer. Dit is ʼn onbestendige situasie en ons glo dat hierdie tuimeltreinrit in die komende maande sal voortduur, met politieke onsekerheid wat ook ʼn rol speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Ek is bly, want ek wil een van hierdie motors eendag op die tweedehandse mark koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.