MRK ontvang klag oor besoedeling in Polokwane-riviere

Besoedeling by Polokwane (Foto verskaf deur die VF Plus)

Die VF Plus het ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Polokwane- plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) wat tot dusver geen stappe gedoen het om die ernstige storting van onverwerkte riool in belangrike riviere stop te sit nie.

Die party het in Julie 2022 reeds ʼn dringende skrywe gerig aan die burgemeester, Makoro John Mpe, asook die waarnemende munisipale bestuurder, Thuso Nemugumeni, oor die aangeleentheid.

Hulle is gevra om onmiddellik ʼn oplossing te vind vir die riool wat vanuit die Seshego-rioolsuiweringsaanleg buite Polokwane in die Bloedrivier stroom.

“ʼn Amptenaar by die aanleg het destyds bevestig dat meeste van die pompe buite werking is en daar nie genoeg chemikalieë beskikbaar is om die riool te behandel nie,” sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus.

Die soliede materiaal word net geskei en die res dan deurgepomp waarna dit in die Bloedrivier beland wat afvloei tot in die Sandrivier.

Die Sandrivier, ‘n sytak van die Limpoporivier, is een van die land se korter en vlakker riviere en vloei van die suide (Polokwane) na die noorde deur die Soutpansberg.

“Ondergrondse waterbronne is al so erg besoedel dat inwoners en boere met boorgate nie die water vir menslike gebruik kan aanwend nie,” voeg Maritz by.

Besoedeling by Polokwane (Foto verskaf deur die VF Plus)

Sedertdien is die voltooiing van dié rioolsuiweringsaanleg uitgestel ten gunste van die bou van ’n groter aanleg, die Seshego-afvalwatersuiweringswerke.

“Daar is dus nie genoeg fondse om albei projekte gelyktydig te voltooi nie. Boonop wil dit voorkom of die munisipale projekbestuurders nie die riglyne van die departement van waterwese vir konstruksie noukeurig navolg nie.”

Tydens ’n oorsigbesoek in Januarie vanjaar aan ‘n onvoltooide brugprojek, het die munisipale openbarerekeningekomitee (MPAC), waarvan die VF Plus ’n lid is, gevind dat ‘n stroom rou riool vanaf die gemeenskappe in wyk 8 (uitbreiding 44) nou ook bydra tot die besoedeling van die Sandrivier.

“Dit is skandalig dat die ANC-beheerde munisipaliteit ooglopend toelaat dat kosbare natuurlike hulpbronne besoedel word en gemeenskappe se gesondheid op die spel geplaas word. Met die komende verkiesing het inwoners ’n geleentheid om van die ANC ontslae te raak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Die politieke party hardloop omtrent rond in verkiesing jaar. Pleks elke jaar stem dan kan die wat nog blind is sien hoe lieg politici elke jaar om stemme te kry.

Di ·

Die hele land het verval in een RIOOL HOOL! Wys my 1 ding waar die ANC spul suksesvol was en iets positief bygedra het in die 30 jaar wat hulle aan bewind is? GEEN, NIKS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.