Chris Nissan, kommissaris van die Menseregtekommissie, lê besoek af aan Port Elizabeth se noordelike gebiede ná ʼn reeks gewelddadige aanvalle en moord in die gebied die afgelope paar maande.
Nissan besoek die gebied Donderdag en Vrydag.
Christian Martin, lid van die provinsiale wetgewer, het gesê meer as 80 persone is die afgelope sewe maande dood weens bendegeweld. “Huise word gewelddadig betree, persone se privaatheid en menswaardigheid word geskend en vrees word ingeboesem wat tot ernstige trauma lei,” het hy gesê.
“Hoe kan enigiemand bly leef ná ʼn aanval waar jou huis om 03:00 in die oggend betree is, jy met ʼn vuurwapen gedreig en van al jou besittings beroof is? Vroue word verkrag en kinders gewelddadig vermoor. Dit is my mening dat dit nie gewone kriminele aktiwiteit is nie, maar ʼn ernstige skending van mense se basiese menseregte,” het Martin bygevoeg.
Die noordelike dele van Nelson Mandelabaai het oor die jare ontvanklik geraak vir misdaad, van dwelmhandel en inbrake tot moord.
Martin het gesê ʼn perskonferensie is vir Vrydag by die distrikskantoor van die departement van onderwys geskeduleer. Die kommissaris sal na verwagting kwessies aanroer wat betref geweld teen onskuldige inwoners en hoe hul menseregte geskend word.
Hy het gesê Nissan se besoek word verwelkom, omdat die MRK ʼn groot rol kan speel om die probleme te takel. “Die MRK moet ook aanbevelings maak om seker te maak dat behoorlike strafregtelike maatreëls ingestel word vir oortreders.”
Nissan sal na verwagting hoofsaaklik fokus op die skending van menseregte van onskuldige inwoners deur bendes en die skending van kinders se menseregte wat betref skoolhoofde wat vorderingsverslae weerhou.
Die minister van polisie, Bheki Cele, het vroeër vandeesweek Port Elizabeth vir ʼn tweede keer besoek om met lede van die gemeenskap te gesels oor bendeverwante geweld en moorde in die stad se noordelike dele. Hy het gesê ʼn nuwe polisiestasie sal binne die volgende 10 maande in Booysens Park gebou word en 42 polisiebeamptes sal ontplooi word om die bendegeweld in Gelvandale, Helenvale, Booysens Park en Bethelsdorp te hanteer.
Cele het gesê ʼn bykomende 30 beamptes sal bygevoeg word om spesifiek bendebedrywighede in die metro te hanteer en hulle sal deel vorm van die bestaande taakspan wat later in ʼn permanente anti-bende-eenheid omskep sal word.
cele wil gesels oor bendegeweld, pleks hy sy hoed afhaal, sy hande vuil maak en dinge nou doen en nie wag vir die nuwe polisiestasie
Mnr martin hoe verwag julle moet die boere wat n aanval oorleef het, aanhou leef? Maar die feit dat hulle oorleef het, eord betreur nê. Maar, wat jy saai, sal jy maai.
Dit klink of sy n plaas aanval beskryf.
Al wat hulle daar doen is om seker te maak dat die krimineel nie onder slegte werkstoes omstandiheide hoef te werk nie en dood seker te maak dat hulle regte ook nie geskend word nie.