Munisipale werker ontvoer, drie keer geskiet

(Argieffoto: Hansie Linde)

Die liggaam van ʼn munisipale werker van Matjhabeng in die Vrystaat is op ʼn stortingsterrein naby Virginia aangetref nadat hy en sy vrou kort tevore in hul huis oorrompel is.

Die 57-jarige amptenaar en sy vrou was op 23 Augustus omstreeks 21:00 besig om TV in hul huis te kyk, toe daar ʼn klop aan die deur was en drie mans, gewapen met handwapens, die huis ingekom het.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is die slagoffer en sy vrou met skoenveters vasgebind en agterin ʼn bakkie, wat aan die munisipaliteit behoort, gedwing. Die aanvallers het met die paartjie na ʼn ou vulstasie op Saaiplaas gery.

“Niks is aan die vrou gedoen nie, maar die man is later op ʼn vullisterrein naby die ou vulstasie aangetref. Hy het drie skietwonde gehad, aan sy kop, bors en wang. Sy hande was steeds vasgebind,” sê Thakeng.

Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Die bakkie van die Matjhabeng-munisipaliteit is verlate naby die Masimong-mynskag gekry en die egpaar se selfone is glo al wat geroof is.

Die drie aanvallers is steeds soek en die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof, ontvoering en moord.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan konst. Khaya Matinisa van die Virginia-speurtak by 082 301 3062 bel, of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

honeybee ·

Snaaks die vrou het niks oor gekom nie. Wonder maar net…..

Annelize ·

Vragie: Wanneer en waar het die ongedeerde vrou uit hulle kloue ontsnap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.