Munisipaliteit uit R1 miljoen bedrieg

(Foto: Shutterstock)

ʼn Voormalige direkteur van die Moses Kotane-munisipaliteit in Noordwes word daarvan verdink dat sy die munisipaliteit uit meer as R1 miljoen bedrieg het.

Sy is Maandag deur die Valke se eenheid, wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, in hegtenis geneem.

“Die vrou word daarvan verdink dat sy gelyktydig twee regeringsposte beklee het sonder dat haar werkgewer daarvan kennis gedra het,” sê kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die direktoraat vir pioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die vrou het in Maart 2022 na bewering aansoek gedoen vir spesiale verlof. Haar jaarlikse verlof sou twee maande later begin het en sy sou teen die einde van Junie teruggekeer het werk toe.

“Sy het egter daarna siekverlof ingesit en versuim om terug te keer werk toe. Dit het later aan die lig gekom dat sy deur ʼn ander staatsdepartement in diens geneem is in die periode waarvoor sy siekverlof ingedien het. Sy het terselfdertyd ʼn salaris by die munisipaliteit verdien.”

Die munisipaliteit het iemand aangestel om in haar afwesigheid waar te neem en die munisipaliteit het gevolglik ʼn verlies van R1 065 240,09 gely.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.