Muur van herinnering vir Kaapse Wynland-helde

Tydens die geleentheid is ’n herinneringsmuur ter nagedagtenis aan hierdie werknemers onthul (Foto: Verskaf)

ʼn Emosionele herdenking van die werknemers van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit wat die afgelope vyf jaar hul lewens in die uitvoering van hul pligte verloor het, is verlede Donderdag gehou.

Tydens die geleentheid is ’n herinneringsmuur ter nagedagtenis aan hierdie werknemers – Colin Reynard, Heinrich Oosthuizen en Buzwe Gcuze – by die munisipale kantoor in Worcester, Wes-Kaap, onthul.

Burgemeester Elna von Schlict, in die middel langs die skofbevelvoerders van die Kaapse Wynland-munisipaliteit se brandweerdienste – wat almal saam met diegene gewerk het wat oorlede is. Van links: Henry Robbertse, Lötter Lackay, Heinrich Louw, Johan Botha, Elna von Schlict, Champlain Daniel Solomons, (wat die dienste gelei het), Piet du Plessis John Hendricks en Bongile Mtsila (Foto: Verskaf)

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die munisipaliteit is die muur onthul in die teenwoordigheid van die oorledenes se families, brandbestryders, die munisipale bestuurder en die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester.

“Die muur van herinnering het ten doel om ons te herinner aan ons helde wat gesterf het en om hulle in ons harte te koester,” het burgemeester Elna von Schlicht tydens die geleentheid gesê.

Burgemeester Elna von Schlicht, die brandweerhoof, Wayne Josias en die munisipale bestuurder ‘inspekteer’ die brandbestryders voor die amptelike seremonie (Foto: Verskaf)

“As ons nie iemand se lewe gedenk nie, sterf hulle twee keer. Deur hierdie geleentheid toon ons die nodige respek en sorg wat hulle verdien,” het Henry Prins, munisipale bestuurder gesê.

Lede van die munisipaliteit se brandweerdiens het ʼn optogparade, ʼn erewag en voorlesing gelei.

Die geleentheid het ʼn hoogtepunt bereik met die lui van die brandweerklok en ʼn formele saluut deur die brandweerspanne.

“Rus in vrede, kollegas, ons sal dit van hier af vat,” het die brandweermanne eenstemmig gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanniepetoors ·

Pragtig om te sien dat gestorwe brandweermanne steeds só vereer word op my geboortedorp. Doen so voort Wynland en Worcester.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.