Mylpaal! Meer as 27 miljoen reeds geregistreer om te stem

(Foto: GCIS)

Die nasionale kieserslys het vir die eerste keer ooit die 27 miljoen-kerf verbygesteek.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het dié syfer Woensdag tydens ’n mediakonferensie as ’n mylpaal bestempel.

Die gesertifiseerde kieserslys het gedurende die 2019-verkiesing op 26,7 miljoen gestaan.

Die kommissie hoop egter vir nóg registrasies tydens die tweede (en laaste) registrasienaweek in aanloop tot die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing.

Suid-Afrikaners kan hierdie komende naweek (3 en 4 Februarie) by meer as 23 000 registrasiestasies oor die hele land ’n draai gaan maak om te registreer om te stem óf bloot hul besonderhede voor die verkiesing na te gaan.

Dié naweek sal egter kiesers se laaste kans voor die verkiesing wees om te registreer.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, het vanmiddag gesê registrasienaweke bly die mees toeganklike manier van registrasie.

Meer as 2,9 miljoen Suid-Afrikaners het gedurende die eerste registrasienaweek in November hul besonderhede op die kieserslys geregistreer en/of bygewerk.

Net minder as 200 000 van die Suid-Afrikaners het gedurende die eerste registrasienaweek vir die eerste keer geregistreer om hul kruisie later vanjaar te trek.

Volgens Mamabolo het die OVK altesaam 498 000 nuwe aanlyn registrasies tussen November en die einde van Januarie ontvang. Mamabolo het die syfer as ’n tweede mylpaal vir die OVK bestempel.

Die OVK skryf die toename in registrasies tussen registrasienaweke toe aan sy eerste aanlyn registrasieplatform wat in Desember bekend gestel is.

(Grafika: Elsabe Erasmus/Maroela Media)

Die meeste registrasies kom in dié stadium vanuit Gauteng (6,3 miljoen), KwaZulu-Natal (5,5 miljoen), Oos-Kaap (3,3 miljoen), Wes-Kaap (3,2 miljoen), Mpumalanga (1,9 miljoen), Noordwes (1,7 miljoen), Vrystaat (1,4 miljoen) en die Noord-Kaap (637 000).

Mamabolo het vanmiddag verder bekend gemaak dat 55% van kiesers op die kiesersrol vroue en 45% mans is.

Sowat 6,7 miljoen van kiesers op die kiesersrol val in die ouderdomsgroep van 30 tot 39, gevolg deur 5,9 miljoen in die ouderdomsgroep 40 tot 49. Sowat 4,5 miljoen van geregistreerde kiesers is tans tussen 50 en 59 jaar oud.

Sowat 4,1 miljoen is tussen 20 en 29 jaar oud.

SA’ners in die buiteland

(Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Volgens Mamabolo het die OVK die afgelope week 18 000 nuwe registrasies vanuit die buiteland ontvang.

Slegs 29 000 Suid-Afrikaners van die sowat 2 miljoen wat tans in die buiteland woon, het egter tot op hede geregistreer om in die nasionale verkiesing te stem.

Die meeste registrasies kom vanuit Londen in die Verenigde Koninkryk (9 373), Den Haag in Nederland (2 855), Dublin in Ierland (1 306), Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate (1 090) en Canberra in Australië (1 075).

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig Suid-Afrikaners in die buiteland sê die OVK se heel eerste aanlyn registrasieplatform is deurspek met tegniese probleme, dermate dat sommige ná ’n gesukkel die aftog geblaas het sonder om suksesvol te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Hoeveel ‘kiesers’ het sedert die vorige verkiesing in SA aangeland? En sedert 1994?

Jacques ·

Waarvan 26 miljoen steeds ANC gaan stem. Rede: Ons hoor, sien dit baie hier op platteland; stem jy nié vir ANC sal jy jou SASSA verloor! Wat ‘n klug! Hulle vang gewoonlik die mense wat ver op informele nedersettings woon, waar ek noodwendig ook woon, so ek sal weet. Óf hul word belowe SASSA sal verdubbel vir dié wat ANC stem. Verkiesings foefie so oud soos die berge. Jammer mense, maar dis my siening. (Jacques )

Katinka ·

Daar is niemand om voor te stem nie. Ons weet klaar wie die land gaan heers, nog vir ‘n 100 jaar.

Andries ·

26 miljoen om te stem maar as die stemme getel word is dit 45 miljoen. Die boggers het st 2 wiskunde .

Hussin ·

So hoor ek toe mos nou by my bestuurder, dit is belangrik om te gaan stem. As jy nie gaan stem nie dan gaan jou stem dalk nie na die party waarvoor jy wil stem nie, want dit word geallokeer… Hy weet want hy het by die stem lokale gewerk. Ek noem toe dat dit hoogs onwettig is, hy is vasbeslote dit is hoe dit werk. Nou vra ek jou… gaan stem maar liewer mense. Dit gaan rof daar buite.

Papsak ·

Kom ons staan saam red SA wat nog te redde is mense ek gaan DA stem

Elma ·

@Bolandse Nooi. Hussin verduidelik en waarsku self baie mooi. Gaan lees gerus en verryk jouself met kennis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.