N1 in Wes-Kaap gesluit ná suurstorting

Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek (Foto: Verskaf)

Die N1-hoofweg op die Heksrivierpas in die Wes-Kaap is tot verdere kennisgewing vir verkeer gesluit weens ’n salpetersuurstorting.

Die storting het plaasgevind toe ’n vragmotor met salpetersuur Donderdag omstreeks 19:10 op die hoofweg tussen Touwsrivier en De Doorns omgeslaan het. Salpetersuur is ’n nie-vlambare, maar hoogs wegvretende suur.

Volgens Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het die vragmotor in die rigting van De Doorns gery toe die voertuig omgeslaan het.

“Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en die Breedevallei-munisipaliteit se brandweerdienste asook die polisie is na die toneel ontbied,” sê Otto.

Die ongeluk het Donderdagaand op die N1 plaasgevind (Foto: Verskaf)

“Weens die aard van die stof en die moontlike impak van die storting, is bykomende spesialis‑steunpersoneel, toerusting en beskermende drag ingekry. Die vragmotormaatskappy is ook van die voorval in kennis gestel en het verdere hulp gestuur.”

Die pad tussen Touwsrivier en De Doorns was teen Vrydagoggend steeds vir motoriste gesluit en alternatiewe roetes is aanbeveel.

Otto sê goeie vordering is deur die nag gemaak om die pad op te ruim, maar opruimingswerk sal waarskynlik die grootste deel van Vrydag neem.

“Die suur word tans uit die tenkwa na ’n leë tenkhouer gepomp om van die toneel verwyder te word sodat bedrywighede kan voortgaan.”

Geen lewensverlies of beserings is aangemeld nie.

Die ongeluk tussen die vragmotor en bakkie het een man se lewe geëis (Foto: Verskaf)

’n Ongeluk op die KwaMashu-hoofweg (N2) in Durban het intussen Vrydag ʼn man se lewe geëis toe ’n vragmotor en ligte afleweringsvoertuig gebots het.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het die motor omstreeks 08:30 op die hoofweg onklaar geraak en in die noodbaan tot stilstand gekom. Werktuigkundiges is ontbied en terwyl hulle aan die motor gewerk het, het ’n swaargelaaide vragmotor, wat houtstompe vervoer, van agter teen die motor ingeploeg.

“’n 40-jarige man het noodlottige beserings opgedoen en is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar,” sê Van Reenen.

“Vier ander mans het geringe tot matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle vir verdere mediese sorg na nabygeleë hospitale geneem is.”

Die omstandighede van albei ongelukke word ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

Daar is geen betroubare wetstoepassing op ons paaie nie, en dit het tot gevolg dat sommige mense ry soos hulle wil en die verkeersreëls verontagsaam. Dié tipe houding / denkwyse onder sommige bestuurders veroorsaak onnodige verlies van lewens op ons paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.