‘Nag van hel’ langs N3, voor onverwagse redding

Een van die bakkies wat dieselfde aand gekaap is, is ook gestroop, waarskynlik omdat die kapers na die satellietopsporingstoestel gesoek het. (Foto: Facebook)

Wat veronderstel was om ʼn rustige besoek aan familielede in Johannesburg te wees, het vir Sasha Naidoo en drie ander slagoffers in ʼn nagmerrieaand ontaard toe kapers – in ʼn blouligvoertuig – hulle op die N3 in die omgewing van die Wilge-tolhek naby Villiers gekaap het.

Naidoo, haar vriend, Tasheal Inderjit, Naidoo se niggie Melisa Jayram en dié se ma, Vasie Jayram, was Vrydagaand van Durban na Sandton op pad toe die insittendes van die wit bakkie met sy blou ligte aan hulle beduie het om stil te hou.

Dit was omstreeks 20:20, maar ure van angs in die stikdonker het nog vir hulle voorgelê, voordat hulle deur ʼn beampte van Tracker te hulp gesnel is.

Naidoo sê hulle het aanvanklik nie besef hulle word gekaap toe hulle voorgekeer is nie. Een van die sogenaamde beamptes het gevra vir Melisa se rybewys en hulle het dit selfs geskandeer. Toe een van die sogenaamde beamptes egter ʼn handsak en skootrekenaar gryp, het hulle besef daar is groot fout, vertel Naidoo.

Hulle hande was binne minute met kabelbinders vasgebind, hul gesigte bedek en die vier slagoffers is op die agtersitplek van die dubbelkajuit Toyota Hilux gegooi waar twee mans bo-op hulle gaan sit het. Nog twee mans het voor in die bakkie geklim en met die vier weggejaag.

Naidoo sê hulle het sowat ʼn uur en ʼn half rondgery tot die kapers eindelik op ʼn grondpad in die omgewing van Vosloorus stilgehou het. Hulle is langs die pad uitgegooi, met die dood gedreig, van al hul besittings beroof en aangerand.

Vasie Jayram het deur die gebeure aanhou bid, tot groot woede van die kapers, wat haar daarvan beskuldig het dat sy “parmantig” is en haar daaroor aangerand het. Ook Inderjit is erg aangerand.

“Hulle het vuurwapens gehad en was reg om ons vir die geringste dingetjie wat ons verkeerd doen, dood te maak,” sê Naidoo.

Sy sê die kapers het hulle deurlopend energiedrankies gevoer en gesê dit is die laaste sluk wat hulle sal neem. Een van die mans het ʼn ander boonop beveel om ʼn kombers oor die vier te gooi en hulle dan dood te maak.

Steeds was die nagmerrie nie verby nie.

“Ons het ons vir die ergste voorberei,” sê Naidoo.

Die kapers het die bakkie begin stroop, oënskynlik op soek na ʼn satellietopsporingstoestel. Naidoo se foon het boonop in hierdie tyd gelui en sy is beveel om aan haar oom wat gebel het, te sê dat alles in die haak is.

ʼn Tweede groep kapers het opgedaag – met nóg drie mans wat kort tevore in dieselfde omgewing in hul bakkie gekaap is. Naidoo sê sommige van die kapers het met hulle bakkie weggery, terwyl die res van die kapers probeer het om die ander drie slagoffers se bakkie aan die gang te kry.

Redding uit onverwagse oord

Die slagoffers ná hulle nagmerrie-ondervinding. (Foto: Facebook)

Terwyl die kapers hiermee besig was, het ʼn reaksiebeampte van Tracker op die toneel aangejaag gekom en die kapers het in verskeie rigtings laat spaander, vertel Naidoo.

“Nie eens toe ons die Tracker-beampte sien, het ons durf waag om te beweeg nie. Een van die ander slagoffers wat ook gekaap is, het besef dit is iemand van sy voertuigopsporingsmaatskappy, maar ons was steeds te bang om te roer.”

Die kapers het in die donker verdwyn.

Naidoo sê die Tracker-beampte het eerder verseker al sewe slagoffers is ongedeerd en veilig in sy eie voertuig, as om agter die kapers aan te jaag. “Hy het gesê ons lewens maak meer saak,” vertel sy.

Volgens haar het die beampte inderhaas na die toneel gejaag, nadat hy besef het die ander slagoffer se voertuig is in ʼn gebied waar dit nie veronderstel is om te wees nie.

Hy het glo dadelik onraad vermoed omdat ander motoriste vantevore in presies dieselfde lokval in die gebied gelei is, sê Naidoo. Die beampte het ook die toneel beveilig tot polisiebeamptes ook ʼn ruk later daar aangekom het. “Die polisiebeamptes het nie eens gevra of ons oukei is nie,” sê Naidoo.

Sy het die volgende dag ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en sê sy was bloot te vreesbevange om in die middernagtelike ure na ʼn polisiestasie te gaan nadat hulle ure lank deur sogenaamde polisiebeamptes geterroriseer is.

“Ek besef die goed wat geroof is, is net materiële dinge, maar die konstante vrees …

“Dit was ʼn nag uit die hel.”

Naidoo sê dit is bloot danksy die blitsige optrede van die Tracker-beampte dat hulle vandag leef om hul storie te vertel. “Dit is hartseer dat ʼn mens in hierdie land nie eens ʼn blou lig kan vertrou nie.”

Naidoo het die groep se ervaring op sosiale media gedeel en byna drieduisend mense het reeds daarop gereageer. Talle van diegene wat kommentaar gelewer het, was kapingslagoffers in dieselfde gebied.

“Met hoeveel mense moet dit nog gebeur voor die polisie ingryp?” sê Naidoo.

“Dit kan nie elke week op dieselfde pad gebeur en niks word gedoen nie. Waar is die polisie?”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en onder meer spesifiek gevra of die gebied ʼn brandpunt vir kapings is en of polisiesigbaarheid op die pad verhoog is. Geen terugvoer is nog ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Sarel ·

Dagvaar die Minister van Polisie tesame met die LUR van die Provinsie

Di ·

Die POLISIE is meestal ook betrokke hierby, daarom kan daar geen hulp verwag word van hulle kant af nie. Net die Vader alleen weet hoe lank ons dit nog gaan uithou is hierdie “Sodom en Gamora nie” .
Hoed en sy “cronies” skitter ook in hulle afwesigheid!

Harley Davidson ·

Dalk is dit die polisie self ek bedoel blou ligte ,polisie voertuig, skandeerder vir lisensie, en ‘n tracker beampte kom toe na die reding die polisie was seker te besig.

Keith ·

Ja. Something doesn’t make sense. Same area (seemingly) as all the others. The police know about it but… do nothing to try and catch them.

christo ·

Daar is rotte in polisiestasies wat so korrup is dat hulle helder oordag mens in uniform beroof. Ek weet van ‘n polisiestasie waar die nuwe bevelvoerder die lot begin bymekaar skraap. Sy lewe is natuurlik in gevaar, maar hy het die eerlike polisielede aan sy kant. Ons bid vir die man, sy span en families dat hulle beskerm word.

JM ·

Die boewe gaan so tekere want hulle weet hulle gaan daarmee wegkom. Hierdie land is absoluut uit die hel uit!! En Cele is net so paties soos sy patetiese polisie. Mag daar spoedig uitkoms wees uit hierdie hool van ‘n land en al hierdie gemors permanent toegesluit word. Ons kan waaragtig nie meer nie!

AW ·

Werklik jamner dat julle dit moes deur maak, aaklige ondervinding !!

Hoekom ·

Die polisie onder leiding van Cele, deel van die ANCartel, beteken niks en is net daar om wetsgehoorsame burgers te treiter oor onbenullighede. Terwyl die regte kriminele kan maak en breek soos hulle wil. Hierdie land is nou ‘n siek hool…

MakersMark ·

Help nie om te vra dat polisie ingryp nie polisie is waarskynlik deel van die probleem.

Nici ·

Dalk kry die polisie kommissie om laat of nooit op te daag nie?

Frank ·

Ja nee, ons SAP het die vinnigste reaksie tyd in die wereld. Hulle is sommer dadelik op die toneel….

Kokerboom ·

Laat rampokkers soos die gratis arbeid aan RDP huisoprigting spandeer. Skies volgens MRK is hul engeltjies.

Dup ·

Ek dink KFC winkels is tans baie veilige plekke want jy sal die meeste polisielede daar aantref.
Wees paraat,is al wat ek kan sê.

Rhona ·

Iets klink nie reg nie. ‘n Klomp kapers met wapens vlug vir 1 enkele Tracker Beampte. Maak julle eie gevolgtrekking.
Julle vra waar is die polisie? Julle sal eers eers sien met die verkiesing. Hulle en die weermag is nie daar vir ons nie. Net vir die regering.

Skappie ·

Is baie bly dat julle niks oorgekom het nie, dankie aan die Tracker-beampte wat julle gered het. Daar was onse Here Jesus beslis saam met julle gewees.

christo ·

Ongelukkig vir hierdie familie is hulle ook ‘n minderheid rassegroep wat net soos ander minderhede die swakste diens kry van die SAPD.

Onnie ·

Rotten to the core. Hou op om vir Bheki Cele en sy ANC maatjies te stem, dan sal dinge rigting kry. Waar dink jy kry hulle die blou ligte en die wapens?

Madeleine ·

Ek wil so graag vir my familie gaan kuier Desember, maar die vrees binne my om van Pretoria af PE toe te ry is te veel. Ek bly maar eerder by die huis. Nie dat ons eens veilig is daar nie. Dis aaklig om so in vrees te leef!!!

Blomme ·

Die vis vrot van sy kop af. Misdaad is die baba van die ANC. Swak leierskap.

Waarnemer ·

En die polisie skitter in hul afwesigheid.Die modus operandi is met verskeie persone op dieselfde plek presies dieselfde en tog doen ons helde,die polisie niks!!!

Blikkies ·

By my maatskappy is daar al twee van ons weknemers albei met Hilux voertuie op dieselfde pad tuseen wilgers en Heidelberg geroof onder presies dieselde omstandighede. Die SAPS is beslis bewus van die voorvalle wat al vir ‘n lang tyd aangaan maar bleik hulle weet nie eers hoe om ‘n lokval te stel as hulle seker nie self agter die rowe sit nie. Al die slagoffers word in ‘n veld in die Vosloorus area afgelaai. Die sake word skeinbaar deur die ‘anti-hijack unit’ ondersoek? Ons wag nou al etlike weke vir terugvoering van hulle kantoor af oor verdere inligting oor ons wernemers se voorvalle.

Carel Johannes ·

Dit sal nie snaaks of ongewoon wees as die ANC polisie nie ‘n vet vinger is die opbrengste van die kapings het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.