Namibiër onder vier wat sterf toe lugballon in Arizona neerstort

(Foto: Facebook/Joanna Izzo)

Vier mense is dood en nog ʼn vrou veg steeds om haar lewe ná ’n lugballon Sondag naby Eloy in Arizona in die VSA neergestort het.

Luidens ʼn verklaring van die Eloy-polisie het die ongeluk omstreeks 07:50 plaasgevind. Die lugballon het in ʼn woestyn sowat agt kilometer van die stad neergestort.

Cornelius van der Walt (37) – die vlieënier – oorspronklik van Walvisbaai in Namibië, sowel as Chayton Wiescholek (28) van Union City in Michigan, Kaitlynn Bartrom (28) van Andrews in Indiana en Atahan Kiliccote (24) van Cupertino in Kalifornië, is in die ongeluk dood.

Valerie Stutterheim (23) van Scottsdale in Arizona het die ongeluk oorleef, maar is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem en veg om haar lewe.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die families en vriende van diegene wat hul lewe in hierdie tragiese voorval verloor het en ons gedagtes is by Stutterheim wat mediese sorg ontvang,” lui die polisie se verklaring.

(Foto: Droplyne Hot Air Balloon Rides)

Altesame 13 mense was tydens die ongeluk aan boord van die lugballon. Dit het agt valskermspringers, vier passasiers en die vlieënier ingesluit.

“Dit is belangrik om uit te lig dat die agt mense wat met ʼn valskerm uit die lugballon gespring het, beplan het om dit te doen en dat die spronge suksesvol voltooi is voordat probleme met die lugballon ontstaan het,” sê die polisie.

Die lugballon het aan Droplyne Hot Air Balloon Rides behoort, ʼn maatskappy wat Van der Walt in 2017 gestig het. Die maatskappy het na gelang van die seisoen lugballonritte in Eloy, Moab en Utah aangebied.

Medelye stroom intussen in vir die slagoffers, ook Van der Walt, wat as ʼn voortreflike vlieënier beskryf is.

“Jy was ʼn karakter, ʼn avonturier en ʼn vriend wat op soveel maniere mal vaardighede gehad het. Ek is so jammer dat hierdie een vlug waarskynlik die een sal wees waarvoor die publiek jou sal onthou. Weet net dat soveel ander, insluitend ek, weet dat jy ʼn goeie man en ʼn uitstekende vlieënier was,” het Phil Brandt in ʼn plasing op Facebook geskryf.

Die oorsaak van die ongeluk is steeds onbekend en word deur die Nasionale Vervoerveiligheidsraad en die Federale Lugvaartadministrasie in Arizona ondersoek.

RIV ????️ Cornelius van der WaltJy was ‘n glimlag mense mens! ???? Ons sal jou altyd onthou! Vlieg hoog! ????

Posted by Carmen Lowings on Wednesday, January 17, 2024

Such a tragic loss.Today, 4 people lost their lives, including my friend.Very few balloon pilots take up skydivers. I…

Posted by Phil Brandt on Sunday, January 14, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.