Navorsing lê trauma van liefdesteleurstellings bloot

Alberta van der Watt. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Met drie ander slimkoppe in haar gesin, was dit net ʼn kwessie van tyd voordat Alberta (Berte) van der Watt van Paul Roux in die Oos-Vrystaat die kruin van akademiese uitnemendheid sou bereik. Sy het Dinsdag haar doktorsgraad in psigiatrie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid verwerf.

Haar navorsing het boonop baie interessante bevindings oor die trauma van liefdesteleurstellings onder jong volwassenes die lig laat sien.

“Die navorsing toon dat hierdie skeidings redelik traumaties kan wees, wat simptome veroorsaak soortgelyk aan dié wat ná fisieke of seksuele aanranding gesien word. Die kenmerke van hierdie skeidings (byvoorbeeld spesifieke redes waarom die verhouding beëindig is) kan ontluikende volwassenes aan ʼn groter risiko blootstel om trauma te ervaar,” verduidelik Van der Watt.

Akademiese uitnemendheid in haar bloed  

Wat Van der Watt se prestasie besonders maak, is dat dit haar gesin se oes van doktorsgrade op vier te staan bring – iets wat ʼn mens nie aldag teëkom nie. Albei haar ouers, Gideon en Ronél, en haar suster, Lize-Marié, het PhD’s – Gideon in teologie, Ronél in sielkunde en Lize-Marié in geskiedenis. Hulle is ook almal oud-Maties. Ronél het voorgraads aan die US studeer, maar haar doktorsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

“Ek voel baie trots om my familie se naam hoog te kan hou. Ek besef ook hoe ongelooflik geseënd en bevoorreg ek was (en steeds is) om te kon studeer,” sê Van der Watt, wat tans aan die US se Departement Psigiatrie verbonde is.

“Ek het altyd grappenderwys van die ‘Van der Watt PhD-siekte’ gepraat en gesê ek gaan dit nie kry nie, maar nou ja, hier sit ons.”

Van der Watt se ouers sê hulle is baie trots op hul dogter se prestasie, veral haar harde werk en deursettingsvermoë. Hulle het ook groot waardering vir haar studieleiers en die Departement Psigiatrie vir die geleenthede wat vir haar geskep is.

Alberta van der Watt saam met haar ma, Ronél en pa, Gideon. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Volgens Van der Watt was sy nooit onder druk om ook soos die res van haar gesin ʼn doktorsgraad te verwerf nie.

“Ek is geseënd met wonderlike ouers wat my toegelaat het om my eie pad te vind, my eie ding te doen. My gesin het my baie ondersteun en raad gegee oor hoe om oor die hond se stert te kom, die politiek van die akademie te hanteer en om aan te hou bid.”

Van der Watt sê haar pad na die akademie was nie juis reguit nie.

“Ek wou eintlik ʼn haute couture-ontwerper word en het eers ʼn driejaardiploma (en een jaar internskap) in modeontwerp gedoen, asook kortkursusse en diplomas in onder meer geleentheids- en konferensiebestuur. Dinge het egter nie uitgewerk soos ek dit beplan het nie en ek is toe maar universiteit toe.

“Ná my meerstersgraad in sielkunde het ek die akademie verlaat en my in projek- en konstruksiebestuur begewe. Maar die akademiese gogga het weer gebyt en ek het toe prof. Soraya Seedat van ons Departement Psigiatrie se navorsingsassistent geword. Die res is geskiedenis.”

Navorsing kan trauma help verwerk

Van der Watt het in haar navorsing gekyk na die emosionele uitwerking (spesifiek posttraumatiese stresversteuring) van verbrokkelde liefdesverhoudings op ontluikende volwassenes (“emerging adults”). Ontluikende volwassenes is 18–25 jaar oud.

“Die erkenning van die traumatiese aard van die ervarings wat hiermee gepaard gaan, kan individue help om ondersteuning te soek en hul geestelike welstand te verbeter. Die bevindinge dui daarop dat die gebruik van trauma-gefokusde behandeling ondersoek moet word as moontlike nuttige terapie om die post-traumatiese stressimptome wat verband hou met verbrokkelde romantiese verhoudings onder ontluikende volwassenes aan te raak.”

Van der Watt sê sy moes self verbrokkelde liefdesverhoudings verwerk en die kommentaar wat sy gekry het, het haar gereeld laat voel asof haar pyn nie geldig is nie en haar gevoelens niks beteken het nie.

“Gevolglik is die seer, die skending van vertroue, die gevoel van nie goed genoeg wees nie, nooit werklik hanteer nie. Daar is maar net ʼn pleister op die emosionele wond geplak – op dié manier ontwikkel mense ʼn wantroue en ʼn ongesonde gehegtheid wat ander negatiewe gevolge het en toekomstige verhoudings kan belemmer. Ek het besef daar is so baie ander ontluikende volwassenes wat presies dieselfde deurmaak.”

Volgens Van der Watt kan haar bevindinge ontluikende volwassenes help om ongesonde gehegtheid te voorkom, om die negatiewe sirkel van slegte verhoudings stop te sit, en meer respek vir hul gevoelens te toon.

“Hulle is reeds onder soveel stres om hul pad te vind, ʼn beroep te vind, ʼn lewensmaat te vind – as dinge nie uitwerk nie, het hulle hulp nodig, die erkenning van hul gevoelens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.